Die Voortrekkermonument en pragtige Natuurreservaat in Pretoria is nie net ’n historiese baken waar taal, geskiedenis en erfenis gevier word nie; die terrein is ook ’n miernes van drawwers, stappers, fiets- en selfs perdryers wat dié veilige en unieke oefenomgewing dwarsdeur die jaar geniet. Die jongste toevoeging tot die Kultuurtuiste se omvattende leefstylaanbod is ’n buiteluggimnasium wat amptelik op 17 Mei geopen word.
“Die buitelewe is so deel van ons kulturele bestaan soos biltong en braaivleis. Ons kamp, ons jag, hou piekniek of kuier gesellig om die braaivleisvuur. Die buiteluggimnasium is nie net ’n opwindende uitbreiding van ons sport-en-leefstylaanbod nie, maar bowenal ’n belegging in mense se fisieke en geestelike welstand,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument.

Kom oefen in die natuur in die Voortrekkermonument se buiteluggimnasium.
Die buiteluggimnasium is naby die Plaaswerf en Pioniersentrum geleë, omring deur bome, vars lug en ’n pragtige uitsig oor die Jakarandastad. Dit is toeganklik vir alle ouderdomme en fiksheidsvlakke, en sluit ’n verskeidenheid oefentoerusting in wat met liggaamsgewig werk, insluitend opstootstawe, parallelle stawe, klimrame en balansbalkies.
Die gimnasium is ’n bymekaarkomplek vir almal vir wie kultuur belangrik is en wat ’n waardering vir Afrikanererfenis koester, sê Brand. “Deur in die geselskap van ander wat jou waardes en agtergrond deel, te oefen, bou nie net spierkrag nie, maar ook gemeenskapskrag. Dit moedig gesprekke aan, bied waardevolle ondersteuning en bou veerkragtige vriendskappe.”

Die buiteluggimnasium by die Voortrekkermonument maak dit vir elkeen moontlik om aktief en gesond te wees.
Volgens Brand is daar legio bewyse van die voordele wat oefening in die buitelug inhou. Navorsing toon dat blootstelling aan natuurlike lig en vars lug stres verminder, jou gemoed verbeter en energie verhoog. Deur in die son te oefen, verhoog die produksie van vitamien D in die liggaam, wat ’n belangrike rol in been- en immuunstelselgesondheid speel.
“Om in ’n besonderse erfenisgebied soos die Voortrekkermonument-terrein te oefen, verbind mense met hul wortels en geskiedenis terwyl die oop ruimte ’n gevoel van vryheid en kalmte skep wat nie maklik in ’n geslote gimnasium nageboots kan word nie. Vir baie besoekers bring dit ’n gevoel van trots en verbondenheid, wat oefening ’n veel dieper betekenis gee – ’n gesonde liggaam huisves immers ’n gesonde gees,” sê Brand.

Die toerusting in die buiteluggimnasium is geskik vir oud en jonk.
“Die buiteluggimnasium by die Monument is ’n inspirerende voorbeeld van hoe geskiedenis en gesondheid hand aan hand loop, en herinner ons daaraan dat gesondheid nie net fisiek is nie, maar ook geestelik, sosiaal en kultureel gewortel kan wees.”
Brand nooi oud en jonk uit om deel te wees van die openingspret van die buiteluggimnasium op Saterdag 17 Mei om 08:00. “Kom bevorder ’n gesonde leefstyl vir die hele gesin binne ’n unieke kulturele konteks. Trek aan jou tekkies, bring ’n waterbottel, en kom oefen waar geskiedenis en gesondheid paaie kruis.”
Vir meer inligting oor pakkette en pryse, besoek https://vtm.org.za/sport-en-leefstyl/ of stuur ’n e-pos na leefstyl@kultuurtuiste.org.za