Deur Dawid Brand
Ons almal ken dié argetipe: die skoolgrondboelie wat – nadat hy al sy eie karretjies gesmous, geruil of gebreek het – sy kloue op ander se karretjies probeer lê. As daar in Suid-Afrika ’n victor ludorum-toekenning gegee kon word vir die grootste skoolgrondboelie, kraai die ANC vir ’n ongeëwenaarde drie dekades steeds koning.
Hoe is dit dat ons dit net gelate aanvaar? Gaan ons nóg drie dekades van destruktiewe dade op dowe ore laat val? Toekyk sonder aksie (werklik moue oprol; rusbankkommentaar op sosiale media tel nie) is net so goed soos ’n staande applous op dié verwronge nuwenormaalpawiljoen.
Slinkse sakkerollers
Het ons só vinnig vergeet van die “tussen R500 miljard en R1 biljoen (“trillion”)” wat deur staatskaping geplunder is. Dié syfer, uit die mond van pres. Cyril Ramaphosa, is meer as die bruto binnelandse produk (BBP) van lande soos Nederland, Turkeye en Saoedi-Arabië! Tog loop die plunderboeliebende – vier jaar, 300 getuies, 3 171 dagvaardings, 8 655 530 bladsye dokumente (aldus die DA) en ongeveer R1 miljard se belastingbetalersgeld van die Zondo-kommissie ten spyt – steeds smalend, met hande vol gesteelde snoepiegeld op die skoolgrond rond.
Het ons só vinnig vergeet van glorieryke sakeondernemings en gehaltedienslewering wat tot rommelstatus gereduseer is? Kimberley wat in 1882 met die eerste straatligte in die suidelike halfrond gespog het. Eskom wat van die wêreld se topkragvoorsiener in 2001 verdof het tot ’n tariefgulsige rampokker met konkelende personeel wat sukkel om die ligte aan te hou en volgens die ouditeur-generaal in die 2023’-2024-boekjaar slegs 17 uit 40 (of 42%) van sy prestasiedoelwitte behaal het. Om te dink dat ons elektrisiteit in ’n stadium die goedkoopste ter wêreld was!
Denel, eens ’n wapenvervaardigingsreus om mee rekening hou, is ’n stukkie skrapnel van sy eertydse glorie. Miljarde is verkwis op onder meer panservoertuigkontrakte wat nooit die slagveld bereik het nie en selfs ná reddingsboeie van nagenoeg R9 miljard die afgelope vyf jaar is dié staatsbeheerde onderneming nog lank nie uit die siekekamer nie. Ons weermag is mank, ons soldate sterf sonder ammunisie in die vreemde.
Byna R40 miljard is voorts in die Suid-Afrikaanse Lugdiens ingepomp om dié spartelende lugdiens se afvlerke te verbind. In 2023 kon jy die SAL, een van die wêreld se oudste lugdienste, se stertvlaggies én roetes byna op een hand tel. Voeg hierby Transnet se skouspelagtige ontsporing en die twyfelagtige trofeekas kreun al meer onder die wanprestasiepryse.
Breek wat werk
Pleks van bou, word dít wat werk boonop sonder brieke deur die boelies gebreek. Die ANC (en maatjies) se rassediskriminasie word in ’n gestrikte geskenkpakkie van “gelykheid, billikheid en diversiteit” toegedraai. Dít terwyl die Bela-wetgewing deurgedruk word om hoogs funksionerende skole se toebroodjies uit hul kosblik te steel. Grondonteiening (én die Nasionale Gesondheidsversekering) die hele kosblik wil gryp en die jongste – die skut van die Afrikaanse e-vervoerdiens Wanatu se voertuie (wat terloops veilige vervoer aan honderde skoolkinders in die Pretoria-omgewing bied) – ’n stok in broodnodige en suksesvolle entrepreneurs se speke steek.
Pleks daarvan dat die uitvoerende bevel deur die Amerikaanse president Donald Trump – ingevolge waarvan die geldkraantjie na Suid-Afrika toegedraai word – ’n wekroep vir die plaaslike magsugtiges is, swaai die boelies tipies hul lang vingers van beskuldiging na die Solidariteit Beweging. ’n Beweging wat met reusesukses internasionaal bande smee en plaaslik bou, wat aanbied om te help waar skaars vaardighede te kort skiet.
Julius Malema huil by die juffrou omdat die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk sy “Kill the Boer”-uitsprake aan die groot X-klok hang, en die ANC gooi al die speelgoed uit die sandpunt omdat sy jarelange roekelose binnelandse en buitelandse beleid sy mislukkings en ideologiese foutlyne op die wêreldverhoog blootlê. Marco Rubio, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, gaan boonop ook nie die G20-beraad later vandeesmaand in Johannesburg bywoon nie omdat Trump tereg sê “Suid-Afrika doen baie slegte goed.”
Nagenoeg 600 Amerikaanse ondernemings doen sake in Suid-Afrika. Die VSA is boonop een van die grootste uitvoerbestemming van Suid-Afrikaanse produkte. Ons kan kwalik kwaai vriendskap met die VSA bekostig óf enige diplomatieke bande (verder) beduiwel. Nog minder kan ons dit bekostig om ons posisie as begunstigde van die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) te verloor.
Terug by die huis bly die werkloosheidskoers van meer as 32% (die uitgebreide koers is meer as 42%) kommerwekkend hoog. Wanatu? Daar is net een keuse: vorentu, ter wille van ons kinders en húlle kinders. Hoe? Met ’n groter toekomsbou-ingesteldheid as ooit tevore. ’n Nóg groter mobilisering van gemeenskappe om op te staan en saam te staan om sélf te doen. ’n Herinnering aan ’n kulturele identiteitsbesef en ’n hernieude roepingsgedrewendheid. Want as ek en jy nie die skoolboelie takel deur sélf die verskil te wees nie, sit álmal detensie. Is daar net een pad: Moertu!
- Dawid Brand is bedryfshoof: beeld en groei van die FAK en die Voortrekkermonument.