VTM-Mediaverklaring

22 September 2023

11 skole besoek die Voortrekkermonument in slegs twee dae

 

Die Voortrekkermonument het jare laas so gewemel soos die afgelope twee dae toe 1379 kinders van 11 skole oor die hele Gauteng, meer kom leer het van ons kultuurtuiste en baken van hoop.

Oor die afgelope jaar het die monument al gasheer gespeel vir honderde skole wat hul leerlinge hiér meer kom leer oor die geskiedenis en die afgelope twee dae se sukses is net weereens ’n bewys dat die VTM een van die land se mees gewilde toeriste-aantreklikhede is; ’n ware baken van hoop!

Na meer as 800 jongmense van Laerskool Danie Malan, Valhalla Primary School, King David School en Tsaroga Phoka Primary School van Soshanguve gister (21 September) regoor die monumentterrein baljaar en die Groot Trek-geskiedenis herontdek het, het sewe skole vandag kom kuier om stokbrood en boerebrood te bak, boeresport te doen en ’n lekker reis deur die geskiedenis aan te pak binne-in die VTM.

Die leerlinge van Lynwood Privaatskool, Vusilela Tegniese College, Hoërskool Centurion, Bryanston Laerskool, Laerskool Hennopspark, Laerskool Pierneef en Jeppe School for Girls het hul behoorlik uitgeleef hier by die monument en dit is duidelik dat ons land se jongmense nog ’n groot liefde vir hul geskiedenis het.

Annemie Jansen van Vuuren van Laerskool Pierneef sê die VTM is ’n belewenis soos min. “Ek het vandag baie van perde geleer en hulle (die perde) is my gunsteling by die monument!” Haar maats, Charl Hough en Jessica van Eden is dit met haar eens dat almal ten minste een keer by die VTM moet kom kuier.

“Dit is vandag my eerste keer by die Voortrekkermonument. Ek gaan definitief vir my boeties en sussies ook sê om te kom,” sê die jong Hough.

Van Eden sê sy het dit baie geniet om meer oor die geskiedenis te leer, maar die boeresport by die VTM was verreweg die grootste hoogtepunt vir haar. “Vandag is die eerste keer wat ek boeresport gedoen het en dit was baie lekker,” sê sy.

Hoërskool Centurion het vroegoggend al by die monument kom uitspan. Hul onderwyseres, juffrou Tuané Hattingh, sê om die kinders bloot te stel aan hul geskiedenis is vir haar uiters belangrik.

“Die Groot Trek-geskiedenis word nie meer op skool geleer nie, maar vir my is dit van die mooiste dele van ons land se geskiedenis, daarom het ek besluit om die kinders hierheen te bring,” sê sy.

“Ons geskiedenis is ons trots en dit is belangrik om dit vir ons jongmense te leer.”

Tamara Andrews, een van Hattingh se leerlinge, sê sy het baie uitgesien na hul besoek aan die VTM.

“Ek dink nie eers my juffrou verstaan hoe excited ek is om hier te wees nie. Ek voel soos ’n klein meisie by Disneyland,” sê sy.

Vir baie van die jongmense was hierdie uitstappie hul eerste besoek aan die monument en sommige van hulle ken die monument met al sy geheime baie goed, maar een ding is seker – die Groot Trek-geskiedenis leef.

Simoné Cloete, die VTM se waarnemende bestuurder van kultuurtoerisme, sê dit is die eerste keer in ’n lang tyd dat daar soveel skoolkinders binne twee dae by die monument kom kuier het.

“Die VTM speel weekliks gasheer vir verskeie skoolgroepe wat hier kom kuier, maar die afgelope paar dae was dit vir ons by die VTM werklik spesiaal om te sien dat ’n klomp skole tegelykertyd hier is,” sê sy.

“Dit wys baie van ons land en sy jongmense, dat hulle steeds hul geskiedenis wil ervaar. Al die onderwysers wat hier gekuier het, is dit eens dat daar min plekke is waar kinders hul liefde vir hul geskiedenis so kan uitleef soos hier by die monument. Hiér bied ons ’n kultuuraanbod soos nêrens anders nie; jy leer nie net die geskiedenis nie, jy beleef dit en dit is waarom dit vir ons so spesiaal is om te sien hoe ons jongmense steeds hier hul wortels kan ontdek en herontdek. Hier vorm ons die leiers vir die toekoms.”