Die Nasionale Koevoet Veterane Bond (KVB) het op Saterdag 11 April 2026 sy jaarlikse herdenkingsdag by die Koevoet Muur van Herinnering in die militêre tuin van die Voortrekkermonument aangebied. Ongeveer 550 mense van reg oor Suid-Afrika en Namibië het die plegtige en statige geleentheid bygewoon.
Hierdie herdenkingsdag, wat jaarliks vroeg in April plaasvind, dien as ’n huldeblyk aan die 165 Koevoet-lede wat tydens die Suidwes-Afrikaanse Grensoorlog (1979–1989) gesneuwel het.
Die wortels van die herdenking lê in ’n wêreldwye tradisie om gevalle soldate en betekenisvolle geskiedkundige gebeure te gedenk. Reeds met Koevoet se onttrekking uit operasionele diens in 1989 het die behoefte ontstaan om gesneuwelde makkers te onthou. Dit sou egter eers 24 jaar later realiseer met die oprigting van ’n permanente gedenkplek by die Voortrekkermonument.
Koevoet is aanvanklik as ’n ondersoekeenheid van die Suid-Wes-Afrikaanse Polisiediens gestig, met lede wat ook uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens gewerf is. Met verloop van tyd het dit ontwikkel tot ’n operasionele eenheid met tussen 2 500 en 3 000 lede, insluitend ondersteunende personeel. Die eenheid se doeltreffendheid is grootliks toegeskryf aan die gebruik van plaaslike Owambo-spoorsnyers en ’n sterk intelligensienetwerk binne die plaaslike gemeenskap.
Die herdenkingsdag fokus veral op die gebeure van 1 tot 9 April 1989 – die sogenaamde “9 Dae Oorlog”. Ten spyte van ’n internasionale vredesooreenkoms het Swapo/PLAN (People’s Liberation Army of Namibia) die skietstilstand verontagsaam met ’n grootskaalse aanval vanuit Angola. Terwyl die Suid-Afrikaanse magte reeds besig was om te onttrek en gebonde was aan die Verenigde Nasies se voorwaardes, het Koevoet ’n sleutelrol gespeel om die verrassingsaanval af te weer.
In die daaropvolgende gevegte het 21 Koevoet-lede binne drie dae gesneuwel – die grootste verlies in so ’n kort tydperk tydens die konflik. Hierdie intense fase het die laaste hoofstuk van Koevoet se operasionele geskiedenis gevorm en is die primêre rede waarom die herdenking jaarliks vroeg in April plaasvind.
Die Koevoet Muur van Herinnering, wat op 6 April 2013 onthul is, dien vandag as ’n sentrale gedenkplek. Die konkawe muur, waarop die name van al 165 gesneuwelde lede gegraveer is, simboliseer verlies, maar ook kameraadskap, diens en lojaliteit. Die inskripsie “KOMESHO (voorwaarts) ONS SAL ONTHOU – WE WILL REMEMBER” verwoord die kern van die dag: dat geen makker vergeefs gesterf het of vergete sal word nie.
Die program sluit onder meer ’n vaandelparade, kranslegging, skriflesing, gebed en die weerklank van “Die Laaste Taptoe” in. Dit is ’n oomblik van stilte en gedeelde herinnering vir veterane, familie, vriende en die breër publiek. ’n Besonder betekenisvolle tradisie is die strooi van sand en makalanivrugte uit die noorde van Owamboland deur oud-Koevoetlede uit Namibië – ’n simboliese terugkeer na die grond waar soveel offers gebring is.
Vanjaar is ’n gerestoureerde Casspir-pantservoertuig amptelik aan die KVB oorhandig deur Adrian Watson. Die voertuig, wat deur die maatskappy OTT gerestoureer is, roep sterk herinneringe op as die primêre operasionele voertuig van Koevoet en ’n integrale deel van hul daaglikse bestaan tydens die konflik. Die Casspir sal by Fort Schanskop op die Voortrekkermonument-terrein uitgestal en as deel van ’n museum ingerig word.
Volgens Wessie Wessels, voorsitter van die KVB sedert 2019 en self ’n voormalige lid van die eenheid (1982–1986), speel die organisasie steeds ’n belangrike rol, dekades ná sy ontbinding. “Die KVB dien as kommunikasiekanaal om veterane bymekaar te hou, mekaar te ondersteun en bande met ander veterane-organisasies te bou. Ons lewer ook ondersteuning aan Owambo-lede wat saam met Suid-Afrikaners teruggekeer het en vandag op Vingerkraal naby Bela-Bela in Limpopo woon,” sê hy.
Die herdenkingsdag is meer as ’n jaarlikse ritueel. Dit is ’n bevestiging van nalatenskap, ’n huldeblyk aan families wat verlies dra, en ’n belofte dat hierdie deel van Suider-Afrika se geskiedenis nie vergete sal raak nie.







