Mediaverklaring

13 November 2023

185 kranse vir 185 kinders 185 jaar na die Groot Trek

Dit is bykans onmoontlik om die Gelofte en die Slag van Bloedrivier te herdenk, sonder om aan die tragiese aand van 16, vroegoggend 17, Februarie 1838 te dink nie. 185 kinders is in enkele ure wreed by Bloukrans in Natal vermoor. Tot vandag is hierdie slagting die grootste kindermoord in een aand in die geskiedenis in Suid-Afrika en dit word tot vandag toe beskryf as die Groot moord.

Die Voortrekkermonument in samewerking met die FAK gaan 15 Desember ’n lewensgrootte replika van die Bloukrans-gedenkteken, in Estcourt, in die Trekroetetuin by die Voortrekkermonument onthul. Die publiek word ook uitgenooi om ’n krans by hierdie monument te kom lê na die inhuldiging.

“Ons wil graag 185 kranse lê vir 185 kinders wat daardie aand so wreed gesterf het. Die geskiedenis van Bloukrans is belangrik om die konteks van Bloedrivier en die Gelofte te begryp,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Vera Giovitto en haar dogter Marina Giovitto Ehlers werk saam om die replika vir die Voortrekkermonument te bou. Giovitto het ook die oorspronklike gedenkteken gemaak en het dadelik ingestem om dieselfde een weer aan te pak vir die Voortrekkermonument.

Vanjaar is ook die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek. Die Voortrekkermonument wil ook 185 wit rose op 17 Februarie 2024 by die kapel plant ter herdenking van hierdie kinders.

“Baie mense besef nie dat die Slag van Bloedrivier ’n direkte gevolg is van die moorde by Bloukrans nie. Die Slag van Bloedrivier is geloods as ’n strafekspedisie vir die wrede moorde wat daardie nag plaasgevind het,” sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK.

“Wat by Bloukrans gebeur het, was nie net ’n aanval nie. Dit was genadeloos, brutaal en moorddadig. Hierdie wreedheid het skokgolwe deur die Voortrekkergemeenskap gestuur en dit het aanleiding gegee tot die strafekspedisie by Bloedrivier,” sê Müller.

As jy Gelofteweek op 15 Desember 2023 gaan bywoon, wil die Voortrekkermonument jou uitnooi om die onthulling by te woon en ook ’n krans te kom lê. As jy nog nie jou plek vir Geloftedag geregistreer het nie, doen dit hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.