Mediaverklaring

10 November 2023

Wat kan jy verwag van Geloftedag? 

“In 2022 het ons 44 mense vir Geloftedag by die Voortrekkermonument verwag, maar 20 000 het opgedaag, daarom hoop ons hierdie jaar vir 44 000 mense!”

So sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

“Vanjaar is ’n spesiale Geloftejaar, want dit is die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte.”

Daarom beplan die Voortrekkermonument iets spesiaal vir Geloftedag. Enige iemand wat Geloftedag wil bywoon, word aangemoedig om op die Voortrekkermonument se webblad vir Geloftedag te registreer.

Die Voortrekkermonument het dit goedgedink om die mense wat hierdie dag bywoon se name te verewig in ons argief. Hierdie persone se name sal ook in ’n tydkapsule kom wat met die 200 herdenkingsjaar van die Groot Trek oopgemaak sal word. Ons wil mense aanmoedig om elkeen in hul gesin se name te registreer.

“Ons wil vanjaar die grootste, geskiedkundigste Geloftedag by die Voortrekkermonument aanbied, en enige Afrikaner of lid van die publiek sal nie spyt wees om die dag mee te maak nie. Ons gaan die lys van besoekers deel maak van die geskiedenisboeke deurdat ons dit in ons argiewe gaan bêre, sodat dit in die geskiedenis kan voortleef,” sê Henk Maree, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.

Die Voortrekkermonument se hekke sal op 16 Desember reeds om 06:00 vir die publiek open. Om 07:00 sal die samesang begin en om 08:30 begin die diens. Die volledige program kan op die Voortrekkermonument se webblad besigtig word.

“Op 16 Desember sal hier kosstalletjies, asook genoeg water en koeldrank vir die publiek wees. Dit sal ’n ongelooflike ervaring vir die hele familie wees om ons te besoek en saam met ons die Gelofte te herdenk,” sê Maree.

Lede van die publiek moet ook nie vergeet van die Gelofteweek-feesvieringe wat van 8 tot 16 Desember by die Voortrekkermonument plaasvind nie.

“Dit is die beste Gelofteweek-program wat nog aanmekaar gesit is, wat oud en jonk sal vermaak. Ons nooi mense van naby en ver om hierdie week saam met ons te kom geniet,” sê Maree.

Registreer hier vir Geloftedag: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.