Mediaverklaring

17 November 2023

Twee monumente, Twee wêrelde!

Staatstoelae en subsidies: Vryheidspark R147 miljoen, Voortrekkermonument R0.

Dit het aan die lig gekom dat Jane Mufamadi, die uitvoerende hoof van Vryheidspark, glo met staatsgeld ’n R700 000 se Mercedes Benz-voertuig gekoop het en ’n persoonlike drywer aangestel het om haar rond te kerjakker.

Dit is egter net die oortjies van die seekoei as mens kyk hoe staatsbefondsing aangewend word.

Luidens Vryheidspark se 2022/2023-jaarverslag is ’n begroting van R91,6 miljoen goedgekeur. Hierteenoor word daar naastenby twee derdes van die begroting, nl. R58,3 miljoen uitgegee net aan salarisse.

Mufamadi verdien R2,5 miljoen rand per jaar en haar vier ander topbestuurders verdien tesame R4,8 miljoen per jaar.

As daar ’n vergelyking getref word, verdien dié 5 topbestuurslede ’n totaal van R7,3 miljoen wat uit die belastingbetalers se sak gegryp word. In wese is dit ’n derde van die hele Voortrekkermonument se uitgawebegroting.

Maar wag dit stop ook nie daar nie, daar is 11 direkteure gelys op die raad. Een direkteur het geen vergoeding ontvang vir die jaar nie, dus beteken dit dat 10 direkteure ’n somtotaal van R1,014 miljoen ontvang het vir 2022/2023.

Daarteenoor ontvang die Voortrekkermonument se raad van direkteure geen vergoeding nie.

Vryheidspark spog in dié finansiële jaar met 30 676 besoekers. Die monument het van Januarie tot Oktober vanjaar reeds meer as 50 000 besoekers gasvry ontvang. Hierdie besoekers is slegs aan die monument self en sluit duisende besoekers aan feeste en markte uit.

Boonop het Vryheidspark in die laaste finansiële jaar ’n gekwalifiseerde oudit ontvang. Daarin het hulle begrotingsbedrae verkeerdelik aangebied met die waarde van R37,18 miljoen.

Verder het die administrasie foute begaan met die depresiasie van bates met die waarde van R20,57 miljoen.

Dit beteken op ’n begroting van R91,6 miljoen, is daar ’n totaal van R57,75 miljoen rand se berekenings- en rapporteringfoute begaan.

Fluit-fluit die storie is nóg nie uit nie.

Op die begroting van R91,6 miljoen, is die uitgawes R53,6 miljoen meer as die totale begroting, wat die totale uitgawes bring tot ’n astronomiese R145,2 miljoen.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, is dit duidelik dat die staat geensins belangstel in die bewaring van ons erfenis en geskiedenis nie en eerder die sakke van sekere persone en instansies volpak met belastingbetalers se geld.

“Daar is ’n algehele verval in die bewaring van erfenis in ons land. Die staat het eenvoudig nie die wil om ons erfenis van alle kultuurgroepe te bewaar nie. Dus is dit organisasies soos die Voortrekkermonument, FAK en Erfenisstigting se verantwoordelikheid om ons Afrikanererfenis te bewaar.”

“Die monument kry geen staatstoelaag nie. Dus is dit nodig vir ons om innoverend te dink om die deure van ons Afrikanerbaken van hoop oop te hou. Dié sou glad nie moontlik gewees het sonder die inkoop van die gemeenskap nie. Elke persoon wat bydrae tot ons kultuurtuiste is ’n erfenisbewaarder en ambassadeur van die Voortrekkermonument.”

“Dink jouself in wat ons sal kan vermag as ons 20 000 mense het wat die monument ondersteun,” sê Langner.

Veronica van Dyk, DA-verteenwoordiger op die portefeuljekomitee vir sport kuns en kultuur, het nou amptelike vrae aan die komitee en parlement gerig oor die stand van sake by Vryheidspark.

As jy die Voortrekkermonument wil ondersteun, klik op hierdie skakel om ons erfenis te bewaar vir generasies wat kom. https://vtm.org.za/donasies/