Mediaverklaring

16 November 2023

Geloftedag: groei oor die jare

Dit is moeilik om te dink dat slegs drie jaar gelede net 250 mense Geloftedag kon bywoon, teenoor verlede jaar se 20 000 mense wat dié dag by die Voortrekkermonument meegemaak het.

Om Geloftedag by die Voortrekkermonument by te woon, het ’n ikoniese gebaar geword na die hoeksteenlegging in 1938 en die inwyding van die monument in 1949. Oor die jare word daar ’n toename in getalle gesien van mense wat Geloftedag bywoon.

Die grootste Geloftedae was in 1913 by die Vrouemonument in Bloemfontein, tydens die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949, in 1988 tydens die Groot Trek 150-feesvieringe en in 2022 by die Voortrekkermonument waar bykans 20 000 mense Geloftedag bygewoon het.

“Vanjaar is ’n spesiale Geloftejaar, want dit is die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte. Ons hoop om die amfiteater vanjaar tydens Geloftedag vol te pak tot sy volle kapasiteit van 44 000 mense,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Tydens die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 het ongeveer 250 000 mense daardie Geloftedag bygewoon. Beide die hoeksteenlegging en inwyding het ’n driedagprogram gehad en mense het op die koppie in Pretoria kampeer om die verrigtinge by te woon.

“Daar was ’n tyd in die monument se geskiedenis waar al die mense wat Geloftedag bywoon het in die monument kon pas. Nou kom die mense terug monument toe en word die hele amfiteater al volgepak, maar daar is beslis nog plek vir baie mense,” sê Langner.

Vanjaar beplan die Voortrekkermonument iets spesiaal vir elkeen wat Geloftedag by die monument gaan meemaak. Die mense wat Geloftedag bywoon se name sal verewig word in ons argief. Hierdie persone se name sal ook in ’n tydkapsule kom wat met die 200-herdenkingsjaar van die Groot Trek oopgemaak sal word.

“Oor 15 jaar van nou af sal jy kan sien watter van jou familie die geskiedkundige geleentheid bygewoon het. Jy kan dan met trots terugkyk oor jou herkoms,” sê Langner.

Die publiek word uitgenooi om die Voortrekkermonument se webtuiste te besoek om te registreer vir 16 Desember asook ons Gelofteweek-feesvieringe by te woon. Registreer by dié skakel: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.