Mediaverklaring

17 November 2023

Kom sit aan vir Dinner for one by die Voortrekkermonument!

 

Tydens Gelofteweek is daar vele kunstenaars en toneelstukke op die planke – Dinner for one beloof om nie teleur te stel nie.

Dinner for One en die satiriese plaaslike weergawe Sopper vir Een word in Desember by die Voortrekkermonument op die planke gebring na ’n reeks uitverkoopte vertonings regoor Suid-Afrika, met Justin Strydom as James die butler, en Elma Potgieter as Miss Sophie.

Dinner for One (ook bekend as The 90th Birthday), wat op TV nou al ’n Oujaarstradisie is, het in Duitsland kultusfliekstatus gekry nadat dit in 1963 in Hamburg verfilm is. Dié uiters snaakse roomtert-komedie speel af in ’n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele skets vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar ‘gaste’ – wat almal al dood is – plekke gedek.

As ’n toegif voer Elma en Justin ná pouse Sopper vir Een ook op. Die verrassing is dat Sopper vir Een die spot dryf met Dinner for One. Elma speel dan die rol van die butler, en Justin dié van Miss Sophie. Sopper vir Een is deur Frans Swart verwerk om dit Suid-Afrikaans te maak.

“Die intrige is presies dieselfde – dis nog steeds ’n verspotte jol!” sê Swart. “Maar ek het die tweede weergawe ‘versuidafrikaniseer’, en dit was baie groot pret! Die gehoor gaan mal wees daaroor! Die klassieke weergawe is so bekend, en die gehoor weet presies wat om te verwag, maar daar gaan ’n hele klomp verrassings in die tweede weergawe wees.”

Elma Potgieter is bekend as onder meer aktrise, aanbieder, skrywer, taalpraktisyn, vertaler, woordkunstenaar, en skrywer van meer as vyftig Afrikaanse kortverhale en vier romans. Sy het aan die Universiteit van Pretoria gegradueer. Later het sy sang- en dramalesse privaat geneem. Ná drie jaar as joernalis by Die Transvaler en Huisgenoot het sy in 1973 haar verhoogloopbaan by die destydse KRUIK begin.

Justin Strydom is ’n bekende televisie-, rolprent- en verhoogakteur en is tans onder meer te sien in die telenovela Diepe Waters in die rol van die swemafrigter Gys Swarts. Justin is ook ’n stemkunstenaar, dosent, skrywer, regisseur en vervaardiger. Hy het drama aan die destydse Pretoria Technikon studeer en was ook die hoof van die dramadepartement by die AFDA Filmskool.

Moenie hierdie uitstekende produksie misloop nie! Koop jou kaartjie vir Gelofteweek hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.