Mediaverklaring

22 November 2023

Vriende van TPA hou afsluiting by die Voortrekkermonument

“Ons staan op die skouers van reuse,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Tydens die jaareindfunksie van ’n groep vriende van die ou Transvaalse Provinsiale Administrasie (TPA), is ‘n uitsonderlike geskenk aan die Voortrekkermonument oorhandig.

Casper Kruger het ‘n besondere boek oor die geskiedenis van die TPA aan die Voortrekkermonument geskenk. Wyle Willem Cruywagen, wat ook lank op die monument se direksie gedien het, was met die verskyning van die boek administrateur.

Die TPA was onder leiding van die Transvaalse administrateur vanaf 1949 tot 1994 verantwoordelik vir die bestuur en instandhouding van die monument. Terselfdertyd het hulle die provinsie bestuur wat bestaan het uit Johannesburg, Pretoria en honderde groot en klein  dorpe tussenin.

“Dit is maklik om na die verlede te kyk en verwyte rond te slinger oor alles wat verkeerd is. Ons moet egter ook erkenning gee aan wat goed en reg was,” sê Langner.

“Ek wou hierdie boek al lankal bring. Sestig is gedruk en hierdie is die enigste een waarvan ek weet. Die TPA en Voortrekkermonument het nou saamgewerk. Ek het geweet hy gaan vernietig word as ons dit nie bewaar nie,” sê Kruger oor waarom die boek aan die Voortrekkermonument geskenk word.

Volgens Langner was Transvaal destyds een van die beste bestuurde provinsies in Afrika, gebou op kundigheid en dienslewering waar die infrastruktuur goed instandgehou en ontwikkel is.

“Die groep leiers het die ou Transvaal tot voordeel van almal goed en reg bestuur. Ons staan op hulle skouers om met dieselfde waardes die Voortrekkermonument en dit waaroor ons as rentmeesters aangestel is, te versorg. Hulle dienslewering en bouwerk sal die maatstaf van uitnemendheid bly,” sê Langner.

Die groep het in die Transvaalkamer by die Voortrekkermonument byeengekom, waarna hulle ook die Museumteater besoek het.

“Dit was ‘n voorreg om die groep deur die Museumteater te neem waar ons Afrikanerstorie vertel word. In die sangklas het Carike haar plate teen die muur gesien. Sy is een van ons groot Afrikaanse legendes. Ek hoop elke oupa en ouma bring hulle kinders en kleinkinders Museumteater toe,” vertel Langner.

Vir die Voortrekkermonument om ’n baken van hoop te wees, kyk ons met trots na die voor ons sodat ons ook ’n ligpunt kan wees vir die toekoms. As jy hierdie jaar se Geloftedag gaan bywoon, registreer jou naam hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#16.