Op 3 Februarie 2024 het oudlede van die 32 Bataljon weer die Suid-Afrikaanse Weermag Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument besoek om die naamplaatjies van 142 van hul makkers wat in die Grensoorlog gesneuwel het, skoon te maak.

Dié bekende erestomp kan by die Weermag Muur van Herinnering, wat 20 09 hierheen geskuif is, gevind word. Dit is van hardekoolboom gemaak en is aanvanklik in 1985 in die Wes-Caprivi in Namibië onthul.

“Dit is vir ons ’n saak van erns om hierdie manne te onthou. Hulle was ons kamerade, ons vriende,” vertel Noël Viljoen. Viljoen was ’n korporaal van die 32 Bataljon.

Sommige oudlede het hul kinders saamgebring om te kom help skoonmaak en so ook die tradisie en erfenis aan die nageslag oor te dra. So word dit ook ’n gesellige gesinsaktiwiteit.

“Ons is veronderstel om die stomp twee keer elke jaar te kom skoonmaak, maar ons hou dit dop en kyk wanneer dit nodig is. Wanneer ons klaar is, kan ’n mens ’n duidelike verskil sien. Dit sal sommer blink,” vertel Viljoen.

Viljoen wys na ’n paar naamplaatjies op die stomp en vertel ’n staaltjie oor elkeen wat eens sy vriende was. “My kinders wil nie saam met my hierheen kom nie. Dit is vir hulle te emosioneel,” vertel hy bewoë.

32 Bataljon was van 1976 tot 1989 as deel van die Suid-Afrikaanse Weermag na Angola ontplooi.

Die Voortrekkermonument werk gereeld saam met die Raad vir Militêre Veterane om hul gedenktekens te vier en die militêre fees vind jaarliks in Meimaand by die Voortrekkermonument plaas.