Akademia het op 3 Februarie die amptelike opening van haar akademiese jaar met ’n dag vol opwinding, kameraadskap en akademiese uitnemendheid by die Voortrekkermonument gevier. Hierdie geleentheid lui die vyftiende jaar van groei, ontdekking en ’n onwrikbare verbintenis tot gehalte by dié privaat Afrikaanse hoëronderwysinstelling in.
Die geleentheid is deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, geopen, wat die studente met ’n kragtige boodskap van visie en doelgerigtheid toegespreek het. Sy toespraak het die instelling se toewyding om intellektuele nuuskierigheid en kritiese denke te bevorder, beklemtoon.
Ná afloop van die akademiese formaliteite, is studente bederf met ’n knal toe die kanon Susanna op die Monumentplein afgevuur is en die opening van die akademiese jaar behoorlik aangekondig het.
Die dag is gevul met erfenispret. Modder het behoorlik gespat met die toutrekstryd wat die studente se spanwerk getoets het, terwyl die kuns van broodbak hulle met hul erfenis verbind het. Die Fonties het ook ’n begeleide toer deur die Voortrekkermonument en Pioniersentrum beleef, en die kettieskiet het gesorg vir hope pret en ’n skoot gesonde mededinging.
Volgens Johannes van Jaarsveld, studenteraadvoorsitter, is dit vir Akademia verskriklik belangrik dat ons kultuur en erfenis behou en beskerm word. “Daar is nie ’n beter plek om dit te doen as by die Voortrekkermonument nie,” het Van Jaarsveld gesê.
Die hoogtepunt van die dag was ’n intieme optrede deur die bekende Afrikaanse kunstenaar Janie Bay in die FAK-Liedjietuin. Studente het bymekaar ingehaak, hartlik saamgesing, hande geklap en herinneringe gevorm wat hulle vir altyd sal koester.
Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, het die belangrikheid van die verhouding tussen die Kultuurtuiste en Akademia beklemtoon. “Akademia het sy 2025- akademiese jaar by mý Monument geopen. Dit was ’n wonderlike ervaring. Die Heldesaal was volgepak met studente en personeellede en ons het ’n baie mooi nuwe tradisie gevestig.
“Die belangrike raakpunt tussen Akademia en die Voortrekkermonument is die feit dat ons ’n gedeelde geskiedenis het. Die hartklop van ons Afrikanergeskiedenis is hier by die Monument vasgevang, en ons wil dit graag aan ons studente oordra sodat hulle ook ons
geskiedenis goed leer ken. Daarom is dit belangrik om ons studente aan die Monument bloot te stel,” het Visser gesê.
Hierdie uiters suksesvolle geleentheid sou nie moontlik gewees het sonder die bydraes van die Akademia-personeel en gewaardeerde vennote, insluitend Interactive Security, LekkerFM, Buffelsfontein Brandewyn, Solidariteit, Janie Bay, die Rapportryers en Udolpho nie. Hul ondersteuning en toewyding het verseker dat die dag nie net ’n sukses was nie, maar ’n onvergeetlike ervaring vir almal wat dit bygewoon het.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, vertrou die studente het geïnspireerd hier weggegaan.
“Die Voortrekkermonument is ’n plek van prestigewaarde. Hierdie Monument wat bo Pretoria uittroon, getuig van vryheid, van selfstandigheid en van ’n ideaal om vir jou ’n eie toekoms te skep. Daarom is dit net logies dat wanneer ’n topuniversiteit soos Akademia haar akademiese opening hou, dit by ’n plek sal wees met prestigewaarde en dat die studente hierheen sal kom om te weet dat ’n monument nie net gebou word vir geskiedenis en die verlede nie, maar hulle ook sal inspireer om ’n toekoms te bou deur dit wat hulle nou gaan studeer,” sê Langner.
Akademia se akademiese opening by die Voortrekkermonument was meer as net ’n geleentheid, dit was ’n bevestiging van uitnemendheid, tradisie en ’n blink toekoms. Terwyl studente hierdie nuwe reis aanpak, doen hulle dit met ’n versterkte sin van kultuur, erfenis en doelgerigtheid.