Die Ambassadeursklub 100 het vandag, tydens een van hul maandelikse glansbyeenkomste, ’n R8000-skenking aan die Voortrekkermonument gemaak. Die Voortrekkermonument is ongelooflik dankbaar vir hierdie dinamiese groep vroue wat hul beywer vir hul gemeenskap.
Wilna Brits, voorsitter van die klub, sê met ’n vorige besoek aan die Voortrekkermonument was ons hulle verbaas oor wat die Voortrekkermonument alles doen. “Omdat ons weet die monument kry geen staatbefondsing nie, was dit die nommer-een-organisasie waarvoor ons geld wil skenk, want erfenis is vir ons bitter belangrik,” sê Brits.
Gerhard Pretorius, kommunikasiehoof by die Voortrekkermonument, het die skenking in ontvangs geneem.
“Die Voortrekkermonument is ’n baken van hoop vir soveel mense en vandag se skenking is weereens ’n bewys van die krag van die gemeenskap en organisasies soos die Ambassadeursklub 100. Elke persoon wat by die projek betrokke is, is ook in hulle eie reg ’n baken van hoop vir nie net die Voortrekkermonument nie, maar vir die gemeenskap,” sê Pretorius.
Die Ambassadeursklub 100 is in 1980 gestig en is ’n geleentheid vir stylvolle, vrolike dames om bymekaar te kom en aan liefdadigheidsaksies deel te neem, veral vir senior burgers in die land.
Skenkings soos dié help die monument om weer terug te gee aan die gemeenskap en ons erfenis te bewaar: www.vtm.org.za\donasies\.