Na bietjie meer as ’n maand se navorsing en beplanning, is die eerste medisinale plante en kruie op 29 Februarie 2024 in die grond geplant by die Voortrekkermonument om die bestaande medisinale tuin uit te brei.

“Hierdie tuin verteenwoordig die medisinale plante wat die Voortrekkers langs die pad teëgekom en gebruik het. Ons wil vir toeriste die ervaring gee om hierdie plante te ruik en in te dink hoe dit daardie tyd gebruik is,” sê Allan Tait, tuinboukundige by die Voortrekkermonument.

In 2021 is die kruietuin amptelik begin en in die blombeddings by die walaer van die monument geplant. Prof. Kobus Eloff, ’n plantbiochemikus het die monument destyds bygestaan om te verseker dat die plante wat aangeplant word, goed daar sal aard en medisinale waarde het.

Markus van Staden, wat as intern by die Voortrekkermonument werk, het gehelp met die uitvoer van die projek en om die plante na te vors.

Volgens Tait is plante gekies wat goed met die Pretoriase klimaat saamwerk.

“Hierdie tuin is die toonvenster van medisinale plante voor die monument. Mense kan daaraan ruik en daarna kyk, maar nie pluk nie. Ons beplan om by die Pionierswerf later ’n gebruikers- medisinale tuin op te rig, waar ons mense prakties kan wys hoe hierdie plante gereed gemaak en gebruik is,” vertel Tait.

Die Voortrekkermonument het die volgende plante en kruie geplant:

  • Pelargonium sidoides, ook bekend as kliproos (gebruik vir verkoues, brongitus en respiratoriese infeksies).
  • Eriocephalus africanus, ook bekend as wilde roosmaryn (algemeen gebruik vir spysvertreing en die respiratoriese stelsel).
  • Lessertia frutescens, ook bekend as Karoo-kankerbos (gebruik vir griep, asma, TB, Lewerprobleme, aambeie en inflamasie)
  • Artemisia afra, ook bekend as wilde als (gebruik vir hoes, verkoues en malaria).
  • Lippia javanica, ook genoem fever tea (gebruik vir koors, wonde, diarree, borspyne en brongitus).
  • Agathosma ovata, kluitjieskraal in volksmond, ook bekend as buchu (gebruik vir nierversaking, borspyne, hoes).

Die Voortrekkermonument wil elkeen wat die perseel besoek, graag uitnooi om ook ons inheemse plantspesies en kruie te bewonder. Elke plant op die Voortrekkermonumentterrein is inheems en hou verband met plante wat op die Groot Trek teëgekom is.

Jou vriendskap kan ons help om ons kultuuraanbod verder uit te brei: www.vtm.org.za/donasies/.