105 studente reis 13 088 kilometer oor die oseaan om oor Suid-Afrikaanse kultuur en geloof te leer.

Oor die loop van ’n maand het drie groepe Amerikaanse studente van ongeveer 35 studente per groep, van Pennsilvanië in Amerika na Suid-Afrika gereis om meer te leer oor Suid-Afrikaners se geloof en kultuur.

Dié studentegroepe behoort aan die One Life Institute in samewerking met Experience Missions Africa.

One Life Institute is ’n 9-maande Christelike ontdekkingsjaarprogram waar studente die geleentheid kry om te leer en te toer. Luidens One Life Institute se webwerf is die program in vierweek-intervalle verdeel, waarvan studente een week klasdraf, een week deur “ondervinding” leer, die derde week aanbiedings lewer en die vierde week toer.

Dit is vir die Voortrekkermonument ’n groot eer om een van die bestemmings te wees wat die instituut besoek.

Volgens Sherry Staltzfuz, een van die studente, is die doel van die toere om meer oor die kulture van die wêreld te leer en terug in Amerika die Christelike elemente in daardie kulture te bespreek. “Daar is baie wat ’n mens kan leer oor kultuur en Christenskap. Ek het vandag geleer hoeveel ooreenstemming daar eintlik in die geskiedenis van Amerika en Suid-Afrika is.”

Die groepe het tydens hul besoek ’n voldagprogram by die monument beleef, onder andere ’n begeleide toer deur die Voortrekkermonument. Temas soos die Gelofte en die Trekkers se geloof tydens hul vryheidsreis is met die studente bespreek.

Die monument se fondasie lê diep in Christenskap waar Sarel Cilliers met die oploop van die Slag van Bloedrivier die Gelofte opgesê het saam met die ander 463 mans wat ’n belofte aan God gemaak het. Die belofte van die Gelofte is juis dat “ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat tot sy eer sal deurbring (16 Desember Geloftedag), en dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag (die Geloftekerk in Pietermaritzburg), en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte (Die storie wat ons by die Voortrekkermonument elke dag vertel).”

“Die eerste groep het die Voortrekkermonument die 13de, die tweede groep die 28ste Februarie en die derde groep die 8ste Maart besoek. Dit is vir die Voortrekkermonument ’n eer om hierdie jong mense te ontvang en meer oor ons geloof deur die geskiedenis te leer,” vertel Christiaan Jordaan, toerismebestuurder by die Voortrekkermonument.

Die studente het verder meer oor kultuur geleer deur broodbakdemonstrasies, sweepklap en kanonskiet. By elke geleentheid is daar gebraai vir aandete en op die 8ste Maart is die geleentheid afgesluit met ’n sokkie.

“Een van die dinge wat vir my uitgestaan het van die toer, is die Voortrekkers se geloof deur hulle reis. Die Gelofte is iets wat ek saam met my huis toe gaan vat en is beslis iets waaroor ek wil nadink,” vertel Isaac Miller.

“Die Voortrekkermonument se Trekroetetuin en die tradisionele broodbak het vir my uitgestaan,” vertel Rayen Zetterberz. “Die inheemse plante en hoe die trekkers uit die natuur geleef is, is iets wat ek beslis sal onthou.”

Die Voortrekkermonument is ’n kultuurtuiste en dit is ’n voorreg om soveel jong internasionale toeriste te leer van ons kultuur, en dan ook weer by hulle te leer. Word ’n vriend van die Voortrekkermonument om ons te help om kultuur te bevorder: www.vtm.org.za/donasies/