’n Juffrou van Wierdapark, in Centurion, bring haar huismuseum jaarliks skool toe om geskiedenis weer lewe te gee vir kinders.
Vir 15 jaar sorg juffrou Alma Joubert jaarliks dat geskiedenis lewendig bly in haar gr. 4-klas, sonder om een keer oor te slaan. Elke jaar moet die kinders in kultuurdrag skool toe kom, dan bring juffrou Alma haar groot versameling antieke items, onder andere uit die Groot Trek-tydperk skool toe.
Vanjaar het die Voortrekkermonument Laerskool Wierdapark op dié dag besoek en die kinders ook meer vertel oor die lekker aktiwiteite wat by die monument aangebied word.
“Ek wou van kleins af altyd na museums gaan om na die ou goed te kyk. As ons deur ’n dorp gery het waar ons ’n museum sien, moes my pa altyd stop. Dan het hy my altyd 10 minute gegee om te gaan kyk,” vertel Joubert.
Toe sy begin het om geskiedenis te gee, het sy ’n paar ou gebruiksartikels begin koop om in die klas te sit. Oor die jare het sy baie verskillende goedere gekoop om vir die leerders te wys.
“Dit is vir hulle baie interessant om te sien wat die mense in die verlede gebruik het. Aangesien ek later heeltemal te veel goed gehad het om in die klas te hou, het ek seker so 15 jaar gelede begin om ’n dag te hou waar ek alles vir hulle wys en verduidelik hoe dit gewerk het,” sê Joubert.
Esté Cilliers, projekbeampte by die Voortrekkermonument, sê dit maak haar baie trots op die entoesiasme van die leerders te sien. “Dankie Laerskool Wierdapark en juffrou Alma vir wat julle vir die kinders beteken. Dit maak ’n mens trots om te sien dat julle trots is!” sê Cilliers.
Dit is vir die leerlinge elke jaar ’n groot opwinding om met kultuurdrag skool toe te kom en na al die ou items te kyk.
“Vir my was die interessantste die kakebene en osse (dolosse) waarmee die seuntjies gespeel het. Die ander ding wat vir my baie interessant was, is die horlosie wat met walvisolie werk,” vertel Wilco du Plooy.
“Die proses van hoe hulle botter maak, was baie interessant en die feit dat hulle dit so lank moet karring om uiteindelik botter te word. En nog was die feit dat die boere hulle swepe laat klap bo die osse en die osse dan luister en begin loop,” vertel Ludwig Coetzee.
Louis Dekker, onderwyser by Laerskool Wierdapark, is besonders dankbaar vir onderwyseresse soos juffrou Joubert wat ’n passie en liefde vir geskiedenis en kultuur by die kinders aanwakker.
“Ek dit is wonderlik dat die Voortrekkermonument betrokke raak by hierdie tipe projekte sodat ons saam ons jongmense kan leer waar hulle vandaan kom.”