’n Viering van uithouvermoë, erfenis én herinnering. Só beskryf deelnemers die Leon Bezuidenhout Springbok Vasbyt-wedloop wat Saterdagoggend sowat 1 000 atlete en ondersteuners na die Voortrekkermonument-terrein gelok het.

Dié wedloop, wat vir die 19de keer aangebied is, het vanjaar hulde aan die diere in oorlog gebring – die perde, honde en ander diere wat deur die jare saam met Suid-Afrikaanse soldate en polisielede gedien en dikwels die hoogste prys betaal het. Spesiale erkenning is gegee aan polisiesersant Tjaart Riekert en sy patrolliehond, Leeu, wat op 30 Maart 1972 in ’n landmynontploffing in die Caprivi-strook gesterf het.

Die dag het tradisioneel begin met ’n herdenkingseremonie waartydens Roché Vermaak en Wolfi van die Diere in Oorlog-veterane ’n krans gelê het en toe saam op ’n motorfiets geklim en voor die atlete uitgery het. Daarna het Nico-Chris Hattingh van die Suid-Afrikaanse Swartkruitvereniging sy kanon afgevuur, wat die deelnemers in die 21 km- en 10 km-wedlope om 07:30 op hul pad gestuur het. Die 5 km-pretdraf het kort daarna gevolg, en aan gesinne, kinders en ontspanningsatlete die geleentheid gebied om deel van die unieke ervaring te wees.

Die wedloop is na Leon Bezuidenhout, die stigter van dié geleentheid, vernoem. Bezuidenhout is in Augustus 2023 onverwags oorlede.

Atlete het die uitdagende roete rondom die Voortrekkermonument aangepak, met sy bekende steil bulte, skerp draaie en wisselende terrein. Die wedloop het deelnemers verby verskeie ikoniese bakens op die erfenisterrein geneem, insluitend Fort Schanskop, die amfiteater, die militêre Muur van Herinnering en die walaer rondom die Monument.

Die Springbok Vasbyt word as een van die land se mees unieke wedlope beskou en is op talle hardloopforums as een van Suid-Afrika se beste wedloopervarings aangewys. Vanjaar se wedloop het opnuut bewys waarom dit ’n instelling op Pretoria se sportkalender geword het.

Die wedloop is vanjaar weer as ’n groen wedloop aangebied. Geen watersakkies is gebruik nie en deelnemers is aangemoedig om hul eie bekers, houers of waterbottels saam te bring. Die inisiatief is daarop gemik om die natuurlike omgewing en die wild in die natuurreservaat rondom die Monument te beskerm.

Die geleentheid is deur die Voortrekkermonument-draf-en-stapklub met die steun van verskeie organisasies aangebied.

Volgens Joep Joubert, voorsitter van die Voortrekkermonument-draf-en-stapklub, het die dag opnuut die besondere karakter van die Springbok Vasbyt beklemtoon.

“Die Springbok Vasbyt is ’n unieke geleentheid in die skadu van die Monument,” sê hy. “Min wedlope in Suid-Afrika bied dieselfde kombinasie van natuurskoon, uitdagende terrein en ’n betekenisvolle herdenking. Elke atleet wat oor die eindstreep draf of stap, neem nie net ’n medalje huis toe nie, maar ook ’n herinnering aan ’n besonderse ervaring.”

Vir baie deelnemers het die Springbok Vasbyt se uitdagende roete sy naam gestand gedoen. Van elite-atlete tot die sogenaamde “agteros”-deelnemers moes diep delf om die eindstreep te haal. Die gesogte Springbok Vasbyt-medalje bly daarom een van die mees gewaardeerde kleinode in enige hardloper se medaljeversameling.

“Daar is min plekke in Suid-Afrika waar atlete soveel kan beleef – van die asemrowende natuurskoon en uitdagende terrein tot ’n diep gevoel van herinnering en verbondenheid,” sê Dawid Brand, die Kultuurtuiste se bedryfshoof: bemarking en kommunikasie. “Die Springbok Vasbyt skep nie net medaljewenners nie; dit skep herinneringe en versterk die band tussen gemeenskap, geskiedenis en erfenis.”