Die Voortrekkermonument het Vrydagaand 17 Julie die geskiedenis op ‘n buitengewone manier lewendig gemaak toe 130 besoekers die eksklusiewe jaarlikse Nagtoer meegemaak het. Die Nagtoer is ‘n unieke ervaring waarin ligte, rook, klank, dramatisering en interaktiewe storievertelling saamsmelt om die Monument se verhaal op ‘n besonderse wyse aan te bied.
Die geleentheid het uit drie intieme sessies bestaan waartydens gaste die Monument ná sononder kon verken. Die gaste is met warm sop, sjerrie en roosterkoek verwelkom, voordat hulle deur die ikoniese gebou gelei is, en die Heldesaal, Senotaafsaal en die Vrijheidsreis-uitstalling in ’n nuwe lig – letterlik én figuurlik – ervaar kon word.
Met dramatiese beligting, atmosferiese rookeffekte, byklanke en toneelspel deur die Voortrekkermonument se akteurs, is die besoekers op ‘n emosionele reis deur die geskiedenis geneem. Die produksie het nie net bekende historiese gebeure vertel nie, maar die gaste laat voel, en waarlik deel van die verhaal gemaak.
Waar besoekers die Monument gewoonlik in daglig ervaar, het die donkerte van die wintersaand nuwe perspektiewe geskep. Skaduwees, beligting en klank het saamgewerk om die indrukwekkende granietstruktuur, reliëffriese en simboliese ruimtes dramaties na vore te bring.
Die Heldesaal, met sy wêreldbekende marmerfriese wat die verhaal van die Groot Trek uitbeeld, het gedurende die toer as verhoog vir verskeie dramatiese tonele gedien. Die kombinasie van vertelling, musiek en spesiale effekte het besoekers nader aan die mense, uitdagings en opofferings van weleer gebring.
In die Senotaafsaal, die geestelike hart van die Monument met sy wye verskeidenheid uitstallings, is twee ossewaens en die oorspronklike kanon Grietjie, kompleet met Sarel Cilliers wat die Gelofte aflê, as temas belig.
Hierna het die toer deur die Vrijheidsreis-uitstalling beweeg, met sy lewensgetroue voorstellings van die Groot Trek en die geskiedenis van die Voortrekkermonument.
Verskeie besoekers het ná afloop van die toer gesê dat hulle die Monument al verskeie keer besoek het, maar dit nog nooit op hierdie unieke wyse beleef het nie. Die kombinasie van geskiedenis, kultuur en moderne aanbieding het ‘n ervaring geskep wat nog lank onthou sal word.
Volgens Dawid Brand, die Kultuurtuiste se bedryfshoof van bemarking en kommunikasie, bevestig die sukses van die aand dat Suid-Afrikaners ‘n diep belangstelling het om hul geskiedenis op vars en betekenisvolle maniere te ervaar. “Die Voortrekkermonument is veel meer as ‘n historiese gebou –
dit is ‘n plek waar óns stories leef. Met die eksklusiewe Nagtoer wys ons nie net die geskiedenis nie, maar maak gaste emosioneel deel van die storie.
“Wanneer geskiedenis, tegnologie, teater, musiek en menslike vertelling saamvloei, gebeur iets besonders. Die Nagtoer wys dat erfenis nie stowwerige stukke in museums is nie, maar ‘n lewende verhaal wat elke geslag opnuut kan ontdek en waardeer.”










