Die Photographic Society of South Africa (PSSA) het op Saterdag 18 Julie die land se uitnemendste jong fotograwe tydens ‘n luisterryke jeugtoekenningsfunksie in die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument vereer. Die geleentheid het die internasionale en nasionale prestasies van Suid-Afrika se jeugfotograwe gevier en opnuut bevestig dat die land se jong talent wêreldwyd met die beste kan meeding.
Die hoogtepunt van die dag was die oorhandiging van medaljes en sertifikate wat Suid-Afrikaanse deelnemers tydens die V International Youth Photo Contest NOFRAMES in Chelyabinsk, Rusland, verower het. Die medaljes is deur Philip de Lange, voorsitter van die PSSA se jeugafdeling, na Suid-Afrika gebring nadat hy die internasionale jeugfotografiekongres in Rusland bygewoon het.
De Lange sê dié internasionale erkenning is die resultaat van jare se toewyding deur die jong fotograwe en hul ondersteuningsnetwerke. “Suid-Afrika is met ‘n goue trofee beloon vir die beste jeugfotografieklub buite Rusland, waar ons teen 20 ander lande meegeding het. Ons het tydens die vorige geleentheid in 2024 ook dié toekenning ontvang.”
Volgens De Lange het die sukses in Rusland bevestig dat Suid-Afrika se jeugfotografie internasionaal hoog geag word. “Die toekennings bevestig dat Suid-Afrikaanse jeugfotografie ‘n blink toekoms het en dat ons jongmense hul plek met trots op die wêreldverhoog vol kan staan.”
Vyftien Suid-Afrikaanse jeugfotograwe is vanjaar genooi om die kongres in Julie in Rusland by te woon. Weens die kort kennisgewing en die hoë reiskoste kon slegs een jong fotograaf die reis onderneem. De Lange het Suid-Afrika amptelik by die kongres verteenwoordig en was ook een van die internasionale gassprekers.
Benewens die internasionale medaljes is verskeie ander belangrike toekennings ook tydens die funksie oorhandig. Jong fotograwe het Certificates of Excellence (CoE’s) ontvang vir hul uitstekende prestasies, terwyl die 2025/2026-ranglys van Suid-Afrika se voorste jeugfotograwe amptelik bekend gemaak is. Die skoolfotografieklub wat die afgelope jaar die beste op nasionale én internasionale vlak gevaar het, is eweneens vereer.
Die eerste 4 plekke in die Die Suid-Afrika Jeugranglys – Internasionaal is as volg:
1. Phiané Oosthuizen
2. Merie Langner
3. Kyla Eksteen
4. Luané Kruger
Phiané Oosthuizen, ‘n graad 10 leerling van Hoërskool Linden het ‘n goue Certificate of Excellence ontvang en het die eerste plek in die Impala nasionale jeugranglys verower en sy beklee ook die eerste plek in die Suid-Afrikaanse jeugranglys – internasionaal.
‘n Besondere hoogtepunt van die verrigtinge was die toekenning van die N-FIAP-onderskeiding (Novice – The International Federation of Photographic Art) aan Merie Langner, ‘n graad 12-leerder van Hoërskool Centurion.
Langner is die eerste Suid-Afrikaanse leerder wat hierdie internasionale onderskeiding ontvang het. Die N-FIAP-erkenning behels lewenslange lidmaatskap van die International Federation of Photographic Art (FIAP) en word slegs toegeken aan fotograwe wat met minstens 25 foto’s toekennings of aanvaardings in internasionale kompetisies in vyf verskillende lande behaal het – ‘n uitsonderlike prestasie vir enige fotograaf, en soveel te meer vir ‘n hoërskoolleerder.
Die Jeugtoekenningsfunksie is gehou te midde van die indrukwekkende jeugfotografie-uitstalling wat sedert 16 Junie in die Pioniersentrum aangebied word. Besoekers kon die bekroonde foto’s bewonder, terwyl die jong kunstenaars vir hul prestasies vereer is – ‘n simboliese viering van talent, deursettingsvermoë en kreatiwiteit.
Dawid Brand, die Voortrekkermonument se hoof van bemarking en kommunikasie, sê die geleentheid beklemtoon die belangrike rol wat jong kunstenaars in die bewaring en uitbou van Suid-Afrika se kulturele en kreatiewe erfenis speel.
“Elke foto wat vandag vereer is, vertel ‘n unieke verhaal deur die oë van ‘n jong Suid-Afrikaner. Hierdie uitstalling en toekennings wys dat ons jeug nie net oor buitengewone talent beskik nie, maar ook oor die vermoë om die wêreld met vars perspektiewe en kreatiewe uitnemendheid vas te vang.
“Ons land se jong fotograwe het die afgelope vyf jaar in elke internasionale kompetisie koning gekraai, insluitend in die VSA, Luxemburg, Duitsland en Bahrein. Daarom is die Voortrekkermonument trots daarop om ‘n ruimte te bied waar dié wêreldklasfotografievernuf nie net uitgestal word nie, maar erken en aangemoedig word,” sê Brand.









