Die ikoniese Voortrekkermonument in Pretoria is stewig op pad om sy droom van selfvoorsiening van elektrisiteit met behulp van ’n sonkragstelsel te verwesenlik. Die publiek het reeds meer as R500 000 tot die Monument se “Gee ons krag”-veldtog bygedra.
Die projek het onlangs verdere stukrag gekry danksy ’n skenking van R27 000 (die waarde van 10 sonpanele) deur die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO). Dié skenking is tydens die BCVO se algemene jaarvergadering deur Lucia van Wyk, uitvoerende hoof van die BCVO, aan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, oorhandig.

Lucia van Wyk, uitvoerende hoof van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) oorhandig ‘n skenking van R27 000 aan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste om 10 sonpanele vir die Voortrekkermonument aan te koop.
Volgens Van Wyk het persone in die BCVO en CVO-skole bygedra wat hulle kon en die BCVO se direksie het ook geld bygesit. Sy daag nou ander skole en kultuurorganisasies uit om soortgelyke veldtogte van stapel te stuur en ’n bydrae te maak om die Voortrekkermonument se sonkragplan te steun.
“Ons erfenis en kultuur is ongelooflik belangrik en dit word in die Voortrekkermonument vergestalt. Ons het probeer om vanaf die BCVO se kant af die Monument sterk te maak en uit te bou, want dit maak óns sterk.
“’n Kind wat weet waar hy vandaan kom, weet waarheen hy op pad is. As ek trots is op wie ek is en waar ek vandaan kom, het ek respek vir ander. Ons probeer dít in ons kinders vestig. Ons het mekaar nodig om vorentoe te gaan,” sê sy.
Geskiedenis nie politiek
Van Wyk sê die BCVO is verbind daartoe om waarheidsgetroue geskiedenis aan kinders oor te dra.
“Geskiedenis word eintlik eers ná 25 jaar geskiedenis en slegs as dit ná 25 jaar nog oorvertel kan word,” sê Van Wyk. “Geskiedenis is nie politiek nie, so ons moet kyk wat werklik plaasgevind het en dít aan ons kinders oordra.
“Ja, daar was foute, maar ook goeie goed. Politiek pootjie dié onderskeid. Politiek het ’n agenda, terwyl geskiedenis die objektiewe beoordeling van gebeure en feite voorop stel. Die BCVO is verbind om onderwys met ’n Christelike Afrikaner-etos te fundeer en geskiedenis op ’n objektiewe manier oor te dra. Ons kan ons kinders leer dat leiers ook foute maak, maar hulle terselfdertyd leer om objektief te evalueer,” sê sy.
Volgens Van Wyk is dit belangrik dat skole die Voortrekkermonument besoek en meer kinders leer om tussen geskiedenis en politiek te onderskei.
Neem die BCVO se uitdaging op en help die Voortrekkermonument om kragonafhanklik te word. Klik hier om by te dra: https://vtm.org.za/gee-ons-krag-projek/