“Ter wille van ons kinders, tot eer van God.”

Só lui die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) se leuse. Vir die afgelope 30 jaar sluit die BCVO deure oop vir hul leerlinge en het hierdie mylpaal met ’n glansdinee die afgelope naweek in die Voortrekkermonument (VTM) gevier.

Lucia van Wyk, die hoof uitvoerende beampte van die BCVO het tydens die funksie Saterdagaand gesê dat hulle bevoorreg is om dié beweging se 30ste verjaardag te kan vier.

“Ons plant bome in wie se skadu ons nie gaan sit nie. Waarvan ons moontlik nie die vrugte gaan pluk nie, maar ons is geroepe om bome te plant,” sê Van Wyk.

Die BCVO kan ook spog met ’n 100%-slaagsyfer in die IEB (Independent Examinations Board) se Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen. Dit is die tweede opeenvolgende jaar wat die BCVO hierdie prestasie behaal.

Tydens die pragfunksie in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument, is die topleerlinge van die hele BCVO aangewys. Die BCVO-leerlinge het talle prestasies en trofeë ingepalm.

Wian Lewies van Hardekool Akademie vir CVO in Ellisras het buitengewoon presteer. Dié jong man het agt onderskeidings behaal. Luidens ’n verklaring wat die BCVO uitgereik het, is Lewies “onder die beste 1% van al die IEB-kandidate” vir Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal en Rekenaartoepassingstegnologie (RTT).

Lewies se raad aan 2024 se matrikulante is eenvoudig: “Leer maar hard.”

Hy moedig egter matrikulante aan om steeds by sport en kultuur betrokke te wees. Lewies studeer vanjaar Rekenaaringenieurswese aan die Universiteit van Pretoria.

Elrike Hanekom, ’n matrikulant van die CVO Skool Pretoria, was onder die top 1% van alle IEB-kandidate vir Gasvryheidstudies.

Die BCVO reik ook jaarliks ’n toekenning uit aan die onderwyser van die jaar. Vir 30 jaar het die BCVO gesteun op die merkwaardige bydrae van Marinette de Bruin, Afrikaanse onderwyseres aan die CVO Skool Pretoria. De Bruin het die pad gestap saam met die geboorte van die skool en het in 2023 uit haar rol as onderwyseres afgetree.

Petre Theron, adjunkhoof van die Voortrekkermonument, het die matrikulante gelukgewens met hul merkwaardige akademiese prestasies. Theron het die matrikulante van 2023 welkom geheet by húl Kultuurtuiste en voorspoed toegewens vir hul toekoms.

“Alles is net genade,” sê Van Wyk in haar toespraak.

In die BCVO se 30ste bestaansjaar vier hulle ook 30 CVO-skole landwyd.

Dit is ’n eer en voorreg om sulke lewendige jongmense by ons Kultuurtuiste te verwelkom en om 30 jaar van genade te vier. Afrikanerkinders wat in hul moedertaal, hul eie geskiedenis van kindsbeen af geleer word met ’n Christelike fondasie, skep hoop vir die toekoms van ons erfenisbakens en taal.