“Met my beeldhou probeer ek visualisering van die boodskap van die woord moontlik maak,” sê Nic Grobler, een van Suid-Afrika se voorste beeldhouers.

Op 17 Februarie 2024 is vyf nuwe beelde van die beeldhouer Nic Grobler tydens die bekendstelling van die Voortrekkermonument se Troostuin amptelik onthul. Hierdie Troostuin het voorheen bekendgestaan as die VTM-Gedenktuin.

Die vraag is natuurlik hoekom die naamsverandering?

“’n Nistuin is ’n moderne begraafplaas, ’n plek van verlies en verlange. ’n Troostuin is al hierdie dinge, maar meer. Dit is ’n plek van bemoediging, kalmte en hoop,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

“Die tuin van troos moet soveel meer wees as ’n inkomstebron vir die Voortrekkermonument. Ons wou ’n plek skep waar kultuur en natuur bymekaarkom en waar ons kan getuig van die een waarheid, dat die enigste troos in lewe en sterwe is dat ons aan Jesus Christus behoort,” sê Langner.

Die nuwe beelde wat onthul word, bou uit aan die bestaande nuanse en karakter van die Gedenktuin en bring vrede, vertroosting en berusting aan diegene wat as verlangende familielid of vriend agterbly.

 

Die eerste beeld wat mens sien as jy by die troostuin instap, is ’n hand met ’n spyker deurboor, getitel “Die prys is betaal”.

“Hierdie beeld is simbolies van Jesus se leiding aan die kruis,” vertel Grobler. “Toe ek hierdie beeld gevisualiseer het, het ek gedink, ‘hy het dit alles vir my deurgemaak’. Elke paasfees is dit asof hierdie beeld ’n rooi skynsel het. Ek kan nie die rooierigheid verklaar nie, maar dit is vir my ’n vertroostende boodskap.”

Die ander vier beelde het Grobler getitel, “Begin ’n nuwe lewe” wat die gelykenis van die verlore seun uitbeeld, “Sing lofliedere” wat Paulus en Selias in die tronk verteenwoordig, “God is daar as jy jou greep verloor het”, is een hand wat deur ’n groter hand vasgehou word en “Hernuwe soos ’n arend” is die beeld van ’n visarend wat sy vangs maak.

“Hernuwe soos ’n arend is een van die moeilikste beelde wat ek al gemaak het. Ek moes die beeld uit die dak hang, omdat ek hom nie kon neersit nie,” sê Grobler.

Grobler glo dat elkeen van sy beelde ’n boodskap het, en dit is die aanskouer se plig om daardie persoonlike boodskap uit die kuns te soek. “Ek het ’n unieke bediening van die Here ontvang. My vraag aan jou is, wat sien jy in daardie beeldhouwerk? Want daar is ’n boodskap vir jou.”

Grobler het as kind kleiosse gemaak en sy pa gehelp swepe vleg, en dis waar sy liefde vir beeldhou al begin het. Na matriek het hy beeldende kunste aan die Universiteit van Natal gaan studeer. Hy het egter gevoel hy is geroepe vir teologie en eerder dié rigting aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.

“Na my studies het ek twisting gehad tussen my liefde vir beeldhou en teologie. Tot ek eendag besef ek kan beide doen. Dit is toe dat ek begin het om beeldhouwerke met ’n christelike boodskap te skep. Ek weet nou dat die Here my toe al voorberei het vir hierdie dag om troos te kan bring,” sê Grobler.

Na afloop van die toesprake het advokaat Marius Ackermann, voorsitter van die Voortrekkermonument, en Nic Grobler die lint geknip om die “nuwe” tuin amptelik te open en gaste het die geleentheid gekry om blomme by hul geliefdes se nisse te plaas en verversings te geniet.

Die Voortrekkermonument hoop dat die Troostuin werklik ’n tuiste sal wees waar mense hul geliefdes kan groet en onthou in ’n veilige omgewing, maar bowenal dat dit troos en hoop sal bring.