“Wow!” Dit was die eerste woord wat Hannes, ’n Belgiese uitruilstudent, gesê het toe hy sy voete in Suid-Afrika gesit het. “Ek het nie geweet wat om te verwag nie.”
Vir Hannes Michielsen en sy medestudente is Suid-Afrika en die Voortrekkermonument nie meer net ’n plek op ’n kaart nie – dit is ’n ervaring, ’n klank, ’n smaak en ’n storie. Dít is die krag van Proza, ’n uitruilprogram waar leerders van Hoërskool Garsfontein en Belgiese studente deur taal en kultuur bymekaar gebring word.
Proza het in 2002 begin met ’n Belgiese student wat ’n Afrikaanse skryfkompetisie gewen het. Sy prys? ’n Toer deur Suid-Afrika. Dit was egter nie net ’n eenmalige besoek nie. Na aanleiding van hierdie kompetisie is ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan, en teen 2004 het die eerste amptelike uitruilgeleentheid tussen Belgiese studente en leerders van Hoërskool Garsfontein plaasgevind.
Sedertdien word die program elke jaar gewilder. In Februarie het die Belgiese studente in Suid-Afrika gekuier, en in Oktober vlieg die Afrikaanse leerders van Hoërskool Garsfontein België toe vir die 13de Proza-uitruilgeleentheid. Wat hierdie uitruilprogram uniek maak, is die feit dat slegs Afrikaans gepraat word – iets wat help dat die Belgiese studente hul Afrikaans lekker kan slyp.
Sven van der Linden, een van die Belgiese onderwysers en ’n ervare Proza-toerganger (dit is al sy agtste besoek!), verwoord sy ondervinding en sê: “Ek sien die skakel tussen Wes-Europese tale en Afrikaans. Maar wat my die meeste tref, is hoe oop, vriendelik en verwelkomend die Afrikanergemeenskap is.”
Hy was veral beïndruk met die Voortrekkermonument en kon die “simboliese uitbeelding van die Afrikaner” daarin raaksien. “Ek kan sien die Monument word gerespekteer, en dit is aangenaam vir Europeërs om hier te kuier.”
Christiaan Jordaan, hoof: toerisme en ervaring van die Voortrekkermonument, glo dat uitruilprogramme soos dié belangrik is om kulturele bande te versterk. “Dit is wonderlik om te sien hoe die 13de Proza-uitruilprogram nie net Afrikaans bevorder nie, maar ook ’n dieper begrip van ons geskiedenis en kultuur by internasionale besoekers kweek. Dit was besonders om te sien hoe die Belgiese studente met verwondering na die Monument kyk.”
Vir Michielsen is dit nie net die mense nie, maar ook die natuur, die lekker broodbak-demonstrasie, die geskiedenis en dan natuurlik die knal van kanon Susanna wat hom aangegryp het. “Die kanon wat afgevuur is, was ’n besondere ervaring!” sê hy entoesiasties.
Hy beskryf Afrikaners as “gesellig, geïnteresseerd en mense wat weet hoe om kos te maak.” En as daar een ding is wat Afrikaans hom geleer het, is dat taal nie net woorde is nie, maar ’n venster na mense se harte.