Na ’n lang droogte van internasionale besoekers, het die oorsese sluise weer oopgegaan en stroom besoekers van regoor die wêreld in hul duisende na die Voortrekkermonument.
Vandeesweek het ’n groep van 20 Belgiese leerders hul hier by die VTM kom tuismaak om bietjie meer oor die Voortrekkers en die Afrikanerkultuur te leer.
Hierdie uitstappie is deel van ’n internasionale uitruilprogram tussen Midstream College en Sint-Franciscusinstituut Melle om kulturele bande te bou.
Michelle Clark, een van die Midstream onderwysers wat die Belgiese jongmense vergesel het, sê hierdie inisiatief is al ’n jarelange tradisie tussen dié skole.
“Ons bied al vir jare hierdie uitruilprogram aan en die VTM is altyd ’n groot hoogtepunt,” het sy gesê.
“Die program fokus daarop om die jongmense bloot te stel aan verskillende tale en kulture en in die proses bietjie internasionale bande te bou.”
Tydens hul besoek aan die VTM, vertel Clark die leerders het ’n lekker geleentheid gehad om hul tande behoorlik in die Afrikanerkultuur in te slaan.
“Ons het sommer met die intrapslag die leerders behoorlik verwelkom in Suid-Afrika met ’n ordentlike Afrikaanse bederf: bobotie en melktert.”
Na hul besoek aan die VTM gaan die jongmense ook die Kaap besoek, maar dit blyk dat die VTM dié jong klomp nog lank gaan bybly.