25 skoolleerlinge van die Oscar Romerocollege in Dendermonde, België, het 12 704 km gereis om Suid-Afrika binne 12 dae te sien, en een van hul bestemmings is die Voortrekkermonument.

Jurie du Blaauw, direkteur (skoolhoof) van Oscar Romerocollege, maak die toer saam met die leerlinge mee en vir hom is die dag by die Voortrekkermonument “heel warm”. Hy is veral beïndruk met die gasvryheid waarmee die groep ontvang is.

Vandag, 7 Februarie 2024, is die groep se tweede dag in Suid-Afrika op ’n uitruilprogram wat in samewerking met Hoërskool Garsfontein gedoen word.

“Ek is al klaar mal oor die Voortrekkermonument. Dit is baie lekker hier,” vertel Amelia Poppe (16) laggend. “Dit (die monument) is beeldskoon.”

Poppe is veral opgewonde oor die geesvang en nuwe liedjies wat sy by Hoërskool Garsfontein geleer het.

Vir Stan Bill (16) is die Voortrekkermonument sover die hoogtepunt van sy tyd in Suid-Afrika. Suid-Afrika se skoonheid staan vir hom uit. “Suid-Afrika is ’n pragtige land,” sê hy.

Die groep besoek vir die volgende 10 dae onder andere die Uniegebou, Soweto, die Krugerwildtuin en Graskop-omgewing.

Dit is vir die Voortrekkermonument altyd lekker om jong mense van ons ryk geskiedenis te vertel, veral internasionale toeriste. Jou vriendskap kan ons help om die geskiedenis nog meer toeganklik te maak vir die jeug. Sluit aan as ’n vriend van die Voortrekkermonument: https://vtm.org.za/donasies/.