Die ikoniese Voortrekkermonument, bekend vir sy indrukwekkende akoestiek, vorm op Sondag 13 Desember die verhoog vir die grootste Kerssang by Kerslig-geleentheid nóg by die Kultuurtuiste. Die internasionaal bekroonde sopraan Amira Willighagen sal as gaskunstenaar optree en beloof om die gehoor met haar besonderse sopraanstem te betower.

Die geleentheid begin om 17:30 en vorm deel van die Kultuurtuiste se Gelofteweekprogram in aanloop tot Geloftedag op 16 Desember. Musiek, geloof en erfenis sal tydens die geleentheid saamvloei in ’n unieke viering van die Kerstyd.

Willighagen, wat internasionale erkenning verwerf het nadat sy op 9-jarige ouderdom die kompetisie Hollands’s Got Talent gewen het, die afgelope tien jaar in Suid-Afrika woon en tans BMus aan Tukkies studeer, sal tydens die geleentheid in vyf tale sing: Duits, Nederlands, Engels, Italiaans en Afrikaans. Haar optrede vorm die middelpunt van ’n program wat klassieke meesterwerke, bekende geestelike liedere en geliefde saamsing-Kersliedere kombineer.

Volgens Dawid Brand, mediahoof van die Kultuurtuiste, is die doel van die geleentheid om mense deur musiek en geloof byeen te bring en die feestyd op ’n betekenisvolle wyse in te lui.

“Met Kerssang by Kerslig wil ons ’n besondere belewenis skep waarin die skoonheid van musiek, die boodskap van Christus se geboorte en die waarde van ons erfenis gevier word. Die Voortrekkermonument is ’n plek van diep historiese en geestelike betekenis. Dit maak die

Monument die ideale ruimte om in die aanloop tot Geloftedag saam te kom, ons geloof te vier en deur musiek herinner te word aan dít wat ons as mense verenig,” sê Brand.

Die program sluit gewilde werke soos “Amazing Grace”, “Ave Maria” en “Nella Fantasia” tot die indrukwekkende “Jerusalem” (The Holy City) in. Die gehoor sal ook saam kan sing aan geliefde Kersliedere soos “Stille nag”, “Kom alle getroues” en “Hoor die blye Eng’lelied”.

Afrikaanse gunstelinge. waaronder “Somerkersfees”, “My hele hart” en “Magaliesburgse Aandlied”, vorm eweneens deel van die program. Die kombinasie van solowerke, koorsang en orkesbegeleiding beloof om die aand ’n besondere musikale karakter te gee.

Hoewel die uitvoering in die Heldesaal plaasvind, word die verrigtinge vanjaar vir die eerste keer ook regstreeks op groot skerms in die Senotaafsaal en op die Markplein uitgesaai. Dit sal meer besoekers die geleentheid gee om deel van die ervaring te wees.

Benewens die musikale program sal die geleentheid ook ruimte skep vir nadenke oor die geestelike betekenis van Geloftedag. Die aflê van die Gelofte vorm deel van die program, waarna ’n kanonskoot die verrigtinge op gepaste wyse sal afsluit.

Die Kultuurtuiste nooi gesinne, families en musiekliefhebbers uit om saam die feestyd by een van Suid-Afrika se bekendste en betekenisvolste erfenisbakens in te lui.

Kerssang by Kerslig vind op Sondag 13 Desember om 17:30 by die Voortrekkermonument plaas. Kaartjies kos tussen R50 en R250.

Bespreek vandag nog jou plek by vtm.org.za.