Die buitengewone bydrae van die bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer Danie de Jager (1936–2003) tot die land se kuns- en kultuurerfenis is op 29 Oktober by die Voortrekkermonument gevier met die bekendstelling van ’n nuwe boek oor sy lewe en werk, die onthulling van ’n portretskildery en die amptelike opening van die Danie de Jager-beelderoete.
Dié drieledige huldigingsgeleentheid in die Kruger-galery by die Voortrekkermonument, is deur die Erfenisstigting en Monument aangebied ter erkenning van De Jager se nalatenskap en as waardering aan die Danie en Elsa de Jager Erfenistrust. De Jager sou vanjaar sy 90ste verjaardag gevier het.
De Jager word steeds as een van Suid-Afrika se veelsydigste beeldhouers beskou. Sy werk, wat monumentale gedenktekens asook uitnemende uitbeeldings van Suid-Afrikaanse wildlewe insluit, getuig van ’n buitengewone aanvoeling vir vorm, beweging en vakmanskap.
Die verrigtinge het afgeskop met die bekendstelling van ’n nuwe boek oor die beeldhouer wat die verhaal van De Jager se lewe, kunstenaarskap en sommige van sy bekendste werke vertel. Die publikasie bied lesers ’n blik op die kreatiewe proses agter sy skeppings en die mens agter die kunstenaar.
Dawid Brand, mediahoof van die Kultuurtuiste, het as gespreksleier opgetree tydens ’n paneelgesprek met oudminister Barend du Plessis en dr. Marius Ackermann, die skrywer van die boek.
Du Plessis, ’n jarelange vriend van Danie en Elsa de Jager, het persoonlike herinnerings aan die egpaar gedeel en insig gebied in die mens agter die kunstenaar. “Danie die Jager was ’n sterk Afrikanerpersoonlikheid. Hy het hom daaraan toegewy om sy beste te gee vir die kultuur waarin hy grootgeword het en ’n kultuurerfenis vir die nageslag te skep.”
Ackermann het meer vertel oor die ontstaan en inhoud van die boek, en die betekenis van De Jager se werk binne Suid-Afrika se kuns- en kultuurgeskiedenis bespreek. “Wat my getref het, is sy veelsydigheid as kunstenaar en ook die inherente kunswaarde van sy skeppings. In my boek het ek my uiteraard toegespits op sy monumentale kuns en elkeen is ’n baie besonderse kunswerk – tegnies goed en die uitbeelding van sy onderwerp is briljant.”
Ackermann is ’n regsgeleerde en direksielid van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. Hy lewer gereeld kultuurhistoriese bydraes vir die FAK se kwartaalblad flink en die aanlyn tydskrif Pretoria Historia. Hy het ook reeds twee Moerdyk-gedenklesings by die Kultuurtuiste gelewer.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, strek die betekenis van die huldiging veel verder as die viering van ’n verjaardag.
“Danie de Jager se beelde herinner ons daaraan dat kuns ’n blywende stem aan ’n gemeenskap se geskiedenis, identiteit en waardes kan gee. Sy vermoë om beweging, karakter en lewe in brons en ander mediums vas te vang, maak sy werk tydloos. Met die boek, skildery en beelderoete wil ons nie net sy merkwaardige kunstenaarskap vier nie, maar ook ons waardering uitspreek teenoor die Danie en Elsa de Jager Erfenistrust, wat ’n belangrike rol speel om hierdie nalatenskap vir toekomstige geslagte te bewaar.”
Ná die boekbekendstelling is ’n portretskildery van De Jager, geskilder deur Jan Ackermann, ’n medikus van Pretoria, onthul. Die werk vorm deel van die breër huldeblyk aan die beeldhouer en sy nalatenskap. “Ek was in ’n mate geïntimideerd deur Danie de Jager, want hy was ’n Boer en nie ’n man se maat nie, maar tog het hy ’n sagte kant aan hom gehad, wat hy selde gewys het. Dit word in sy werke weerspieël.
“Hy was ook ’n onafhanklike denker en iemand wat hom nie laat intimideer het deur die Europese style nie. Hy het sy eie Afrika-Afrikanerstyl ontdek,” sê Jan Ackermann.
Die program is afgesluit met die amptelike opening van die Danie de Jager-beelderoete op die Voortrekkermonument-terrein. Die roete bring verskeie van sy beeldhouwerke en makette byeen en bied besoekers die geleentheid om sy kunstenaarskap in ’n unieke historiese en natuurlike omgewing te ervaar.
Sedert die afsterwe van Elsa de Jager in 2021 het die Voortrekkermonument ruim skenkings van beelde en finansiële ondersteuning van die Danie en Elsa de Jager Erfenistrust ontvang. Hierdie werke vorm vandag ’n belangrike deel van die Monument se kunsversameling en het bygedra tot die ontwikkeling van die nuwe beelderoete.
Een van die opvallende werke op die roete is die Koningjagluiperd, ’n bronsbeeld wat De Jager oorspronklik in 1992 geskep het. Dié skepping beeld die seldsame koningjagluiperd uit – ’n unieke genetiese variasie van die gewone jagluiperd, waarvan die kolle in groter patrone en strepe saamvloei. Die oorspronklike beeld is in Manhattan, New York, te sien en geniet internasionale erkenning.
Die roete sluit ook ’n komposisie van drie springende rooibokke in, ’n dinamiese werk wat met De Jager se groter Impala Group-projek vir die Impala-gebou in Manhattan verband hou. Slegs vyf weergawes van hierdie beeld bestaan. Die werk is in 2022 deur die Danie en Elsa de Jager Erfenistrust aan die Voortrekkermonument geskenk.
Nog twee belangrike toevoegings is die rooibokgroep-maket, wat tydens die ontwikkeling van De Jager se bekende groep van veertien lewensgrootte rooibokke gebruik is, en die Kameelperd-beeldegroep-maket, wat gebruik is in die skepping van ’n bronsgroep van drie lewensgrootte kameelperde wat in die 1980’s vervaardig is en later by Sun City gehuisves is. Albei modelle is in 2022 aan die Voortrekkermonument geskenk.
Ackermann sê die boek en beelderoete help om De Jager se kunstenaarskap vir nuwe geslagte toeganklik te maak.
“Danie de Jager se werk vertel stories wat veel verder as die beeld self strek. Agter elke monumentale skepping lê ’n kunstenaar se verbeelding, tegniese vaardigheid en vermoë om ’n idee in ’n tasbare vorm vas te vang. Deur sy werk weer onder die publiek se aandag te bring, kry besoekers die geleentheid om nie net die voltooide beelde te waardeer nie, maar ook die denke en kreatiwiteit daaragter beter te verstaan.”
Die beelderoete verruim ook die Trekroetetuin se rol as ’n ruimte waar kultuur, geskiedenis en natuur bymekaarkom. Besoekers kan De Jager se werk tussen die tuin se plantegroei en ander erfeniselemente beleef en sodoende Suid-Afrikaanse kunstenaarskap binne ’n breër landskap van natuurlike en kulturele erfenis ontdek.


