Die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees het vandag die Voortrekkermonument omskep in ’n bruisende viering van Afrikaanse kultuur, geskiedenis, musiek en gemeenskap toe meer as 3 000 mense saamgetrek het om Erfenisdag te vier. Met ’n vol program van vroegoggend tot laatmiddag het gesinne en feesgangers die geleentheid gehad om nie net oor erfenis te leer nie, maar dit eerstehands te beleef.
Die fees, aangebied deur die Kultuurtuiste, met die tema, “Toeka tot Toekoms”, is deur die dag verweef. Volkspele, boeredanse en boeremusiek het skouers geskuur met moderne Afrikaanse kunstenaars, die FAK-Skryf’it-finaal, historiese kanonskote, ’n uitgebreide mark en ’n propvol kinderprogram.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, het die fees gewys dat erfenis nie bloot iets uit die verlede is nie, maar ’n belangrike rol speel in hoe gemeenskappe hul toekoms vorm.
“Erfenis leef wanneer mense dit beleef. Vandag het ons gesien hoe musiek, geskiedenis, taal, kos, handwerk en stories mense van verskillende generasies bymekaarbring. Dit is die krag van ’n lewende kultuur. Dit verbind ons met waar ons vandaan kom én gee ons iets om aan die volgende geslag oor te dra,” sê Langner.
Van toeka se tradisies tot môre se talent
Die feesprogram het reeds vroegoggend afgeskop met opkomende sangers in die Toekomstalent-program, gevolg deur die Pretoria Volkspelelaers, die Barny Armstrong-boereorkes en optredes deur die Wapadrand- en Lekkerdraai-Boeredansers.
Pieter Smith het om 10:00 opgetree, waarna die Markplein verder tot lewe gekom het met onder meer ’n optog van veteraanmotors, perde, honde, die brandweer en ander deelnemers. Tuin Schoeman en Logan Pietersen, onderskeidelik die naaswenner en wenner van FAK-Skryf’it 2025, het ook opgetree.
Een van die hoogtepunte van die dag was die historiese kanonkettingskoot kort ná 13:00. Die ZAR Kanonniersvereniging het met die replika-kanonne Grietjie en Susanna deelgeneem aan ’n landwye reeks van 31 kanonskote wat vanaf Simonstad en Kaapstad tot by Lephalale (Ellisras) afgevuur is. Die inisiatief het die historiese Hollandse kanonoproepstelsel herdenk, waardeur boodskappe met behulp van rook- en klankseine oor groot afstande oorgedra is.
Die fokus het die middag na die toekoms van Afrikaanse musiek verskuif met die FAK-Skryf’it-finaal. William Wolf, John-Henry Opperman, Andriëtte Norman, Ampie en Danie “Reënwolf” du Toit het saam met hul finaliste opgetree voordat die ma-en-dogter-span Aniel en Milla Redelinghuys van Wellington met hul liedjie, “Bittermooi Boland”, as wenners van die FAK Skryf’it 2026-kompetisie gekroon is. Andriëtte Norman, hul mentor het die liedjie gesing.
Eloff en Elvis Blue het die dag se musiekprogram op hoë noot afgesluit.
Erfenis wat kinders kan beleef
Die uitgebreide Trap der Jeugd-kinderprogram het ook ’n sentrale rol by die fees gespeel. By die Pioniersentrum kon kinders gesigverf, verf- en inkleuraktiwiteite, ballonkuns, brood uit die buiteoond, ’n modeltreintjie-uitstalling en die maak en toets van hul eie ketties geniet.
Op die Plaaswerf kon jong besoekers plaasdiere voer, perd- en kameelritte geniet, verfbal speel, trampolien spring en die dwergbokkies vertroetel. By die Lewende Laer kon hulle stokbrood maak en eet, kleiosse maak en aan ’n sweepklapkompetisie deelneem.
“Ons wil hê kinders moet ontdek dat erfenis nie net iets is wat ’n mens in ’n boek lees of agter glas in ’n museum sien nie. Wanneer ’n kind self brood bak, ’n dier voer, ’n liedjie sing of ’n ou tradisie beoefen, word daardie erfenis deel van sy of haar eie ervaring,” sê Langner.
Geskiedenis in posseëls en stories
Die fees het ook ’n besondere filateliekomponent ingesluit. Die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria se Erfenis 2026-uitstalling, wat van 24 tot 26 September in die Voortrekkersaal aangebied word, wys hoe posseëls, posstempels, poskaarte en ander posstukke waardevolle historiese verhale kan bewaar.
Meer as 150 stalletjies het kos, kunsvlyt en ander produkte aangebied, terwyl Die Dameskring se teetuin in die FAK-Liedjietuin ’n gewilde kuierplek vir feesgangers was.
Volgens Langner gaan die Toeka tot Toekoms-fees uiteindelik oor die skep van ruimtes waar mense hul kultuur saam kan beleef.
“Die boodskap van Toeka tot Toekoms is eenvoudig: ons erfenis behoort nie agter ons te lê nie. Ons neem dit saam vorentoe. Wanneer ’n jong mens saam met ’n ouer geslag sing, dans, stories hoor en nuwe musiek ontdek, word die verlede ’n bousteen vir die toekoms,” sê hy.
Die Kultuurtuiste bedank alle kunstenaars, deelnemers, vrywilligers, vennote, stalletjiehouers en besoekers wat tot die sukses van die fees bygedra het. ’n Besondere woord van dank gaan ook aan die fees se borge, met spesiale erkenning aan Gemoedsrus as hoofborg van die geleentheid.













