Die Kultuurtuiste het as deel van Erfenismaand drie besonderse bome op die Voortrekkermonument-terrein geplant. Twee van die bome vervang historiese bome binne die bekende vyfhoekige klipmuur op die terrein, terwyl ’n seldsame wit jakarandaboom aangeplant is.

Die vyfhoekige klipmuur met die simboliese klipstapel binne-in is oorspronklik in 1938 tydens die Eeufeesviering van die Groot Trek opgerig. Die vorm daarvan verbeeld die Kasteel van Goeie Hoop in Kaapstad en dien as ’n betekenisvolle herinnering aan die geskiedenis, nalatenskap en ontwikkeling van die Afrikanervolk in Suider-Afrika.

In Desember 1963 het die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) vyf bome binne die klipmuur laat plant. Verteenwoordigers van die destydse vier provinsies en Suidwes-Afrika het elk ’n boom geplant. Die bome het onderskeidelik Suidwes-Afrika, die Kaapprovinsie, Natal, die Oranje-Vrystaat en Transvaal verteenwoordig en is doelbewus gekies as simbole van groei, vestiging en volharding.

Met die verloop van tyd het twee van die oorspronklike bome egter probleme begin veroorsaak. Een boom het gevrek en ’n veiligheidsrisiko ingehou, terwyl ’n tweede boom se wortelstelsel só ontwikkel het dat dit die historiese klipmuur begin bedreig het. Ná deeglike oorlegpleging met boomkundiges en erfenisbewaringspesialiste is besluit om die bome te verwyder en met meer geskikte spesies te vervang wat beter by die ligging en die langtermynbewaring van die terrein pas.

Vandag is ’n mopanieboom geplant om Suidwes-Afrika te verteenwoordig en ’n vanwykshout vir Transvaal. Die geelhoutboom verteenwoordig steeds die Kaapprovinsie, ’n koraalboom Natal en ’n olienhoutboom die Vrystaat.

Die geleentheid het ook die planting van ’n seldsame wit jakarandaboom (Jacaranda mimosifolia ‘Alba’) ingesluit. Die boom is teenoorstaande die historiese klipstapel geplant as simbool van die Voortrekkermonument se verbintenis met Pretoria, wêreldbekend as die Jakarandastad.

Die wit jakaranda is ’n skaars kultivar wat op ’n pers jakaranda-onderstam geënt is. Die plantmateriaal is afkomstig van ’n wit jakarandaboom in Herbert Bakerstraat in Pretoria en die enting is deur Allan Tait, die Voortrekkermonument se tuinboukundige, uitgevoer.

Ds. Cassie Aucamp, dr. Marius Ackermann en Lucia van Wyk, voorsitters van die Voortrekkermonument (VTM) en Erfenisstigting (ES)-direksies gedurende die tydperk 2020 tot 2026, het die bome simbolies geplant.

Die wit jakaranda dien ook as simboliese erkenning van die rol wat natuurerfenis in die bewaring van Suid-Afrika se kultuurlandskap speel. Waar die oorspronklike vyf bome die groei van gemeenskappe en die uitbreiding van vestiging verteenwoordig het, simboliseer die nuwe boom die voortdurende vernuwing van erfenis in ’n veranderende wêreld.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, vorm die nuwe aanplantings deel van ’n breër visie van bewaring deur ontwikkeling.

“Erfenisterreine moet lewende ruimtes wees waar die verlede en die hede met mekaar in gesprek tree. Hierdie bome herinner ons daaraan dat erfenis nie staties is nie, maar voortdurend groei, aanpas en nuwe betekenis kry, terwyl ons steeds die oorspronklike verhaal respekteer,” sê Langner.

Die Voortrekkermonument nooi besoekers om die terrein gedurende Erfenismaand te besoek en die nuwe aanplantings, die historiese klipmuur en die talle ander natuur- en kultuurerfenisbates op die terrein self te beleef.