In ’n besonder betekenisvolle gebaar van gemeenskapsbetrokkenheid en omgee vir Suid-Afrika se kultuurerfenis en dierewelsyn, het Winterstorm Kuilvoer, ’n leier in die voerbedryf, vandag die Kultuurtuiste besoek en aangekondig dat die onderneming voortaan 1,5 ton kuilvoer per maand, of soos benodig, aan die Kultuurtuiste se diere sal skenk.

Die dag het om 09:00 afgeskop met ’n hartlike verwelkoming en koffie waartydens gaste die geleentheid gehad het om kennis te maak met die Kultuurtuiste se personeel, inwoners en die verskeie diere wat op die terrein versorg word. Daarna het die amptelike bekendmaking plaasgevind, waartydens die omvang van Winterstorm se verbintenis onthul is.

Die skenking sal ’n groot verskil maak aan die versorging van die Kultuurtuiste se diere. Met toenemende voer- en instandhoudingskoste bied die maandelikse bydrae die versekering dat die diere toegang tot gehaltevoeding sal hê, selfs gedurende uitdagende ekonomiese toestande.

Volgens Marcu van Rensburg, eienaar van Winterstorm Kuilvoer, is die onderneming se betrokkenheid veel meer as net ’n skenking.

“By Winterstorm glo ons dat sukses nie net gemeet word aan die produkte wat ons verkoop nie, maar ook aan die verskil wat ons in gemeenskappe maak. Die Kultuurtuiste verrig belangrike werk om ons kultuurerfenis te bewaar en bied terselfdertyd ’n veilige tuiste aan ’n verskeidenheid diere. Ons is trots om deel van hierdie reis te wees.”

Winterstorm Investments is sedert 2004 ’n familie-onderneming in Noordwes en bemark sedert 2007 kommersiële kuilvoer. Die onderneming het in 2018 sy bekende vakuumverpakte 31,25 kg-kuilvoersakke bekendgestel en het sedertdien ontwikkel tot die markleier in kleinverpakking-kuilvoer in Suider-Afrika.

Die gehalte van Winterstorm se kuilvoer lê in die unieke samestelling daarvan. Die hoofbestanddeel is soetvoersorghum, ’n gewas wat bekend is vir uitstekende verteerbaarheid, hoë suikerinhoud en besondere smaaklikheid. Die onderneming se unieke

aanplantingsmetodes integreer mielies saam met die sorghum, wat help om die voedingswaarde verder te verbeter.

Winterstorm se kuilvoer word volledig gefermenteer, vakuumverpak en lugdig verseël voordat dit versprei word. Hierdie proses beskerm die voer teen suurstof en bederf, terwyl die voedingswaarde en kwaliteit behoue bly totdat die sakkie oopgemaak word. Die volledige produksieproses word deur AgSci Unlimited geoudit, wat Winterstorm die enigste kuilvoervervaardiger in Suider-Afrika maak met ’n volledig onafhanklik-geouditeerde produksieketting.

Die Kultuurtuiste het spesiaal vir die besoekers ’n unieke kultuurprogram saamgestel. Ná die bekendmaking het gaste die Toekomsbou Museumteater besoek waar hulle die geleentheid gehad het om meer te leer oor die geskiedenis, tradisies en mense wat deel vorm van die instelling se nalatenskap.

Daarna het die groep die Monument besoek voordat die dag afgesluit is met ’n middagete waartydens verdere gesprekke gevoer is oor toekomstige samewerking tussen die twee organisasies.

Van Rensburg het beklemtoon dat die onderneming trots is op die voedingswaarde van die produk wat aan die Kultuurtuiste geskenk word.

“Ons kuilvoer bied ’n uitstekende balans tussen vesel, energie en oplosbare koolhidrate. Dit ondersteun gesonde rumenfunksie en kan met groot sukses aan beeste, skape, bokke, perde en ander herbivore gevoer word. Ons weet die diere van die Kultuurtuiste gaan hierby baat vind.”

Die vennootskap tussen Winterstorm Kuilvoer en die Kultuurtuiste dien as ’n voorbeeld van hoe die private sektor ’n betekenisvolle bydrae kan maak tot die bewaring van kultuurerfenis, die ondersteuning van gemeenskapsprojekte en die versorging van diere.

“As dit nie Winterstorm sê nie, is dit nie kuilvoer nie.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, het die skenking as ‘n betekenisvolle belegging in beide die Voortrekkermonument en Natuurreservaat se volhoubaarheid én sy dierewelsynsprogram beskryf.

“Hierdie ruim gebaar van Winterstorm Kuilvoer beteken vir ons ongelooflik baie. Die diere wat deel vorm van die Kultuurtuiste se unieke leefwêreld speel ‘n belangrike rol in die bewaring en uitbeelding van ons kultuurerfenis. Met Winterstorm se verbintenis van 1,5 ton kuilvoer per maand kry ons nie net gehaltevoeding vir ons diere nie, maar ook die gemoedsrus dat ons ons natuurerfenis op ‘n verantwoordelike en volhoubare wyse kan bestuur. Ons is dankbaar vir Winterstorm se geloof in die werk wat hier gedoen word en sien uit na ‘n lang en betekenisvolle vennootskap.”