Die Kultuurtuiste maak gereed vir een van sy grootste Erfenisdagvierings nóg wanneer die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees op Donderdag 24 September by die Voortrekkermonument plaasvind. Met musiek, geskiedenis, kultuur, ’n groot mark, historiese kanonskote, ’n besondere filatelie-uitstalling en ’n uitgebreide kinderprogram bied die fees ’n daglange ervaring vir besoekers van alle ouderdomme.

Die fees se tema, “Toeka tot Toekoms”, verbind Suid-Afrika se kultuurerfenis met die volgende geslag. Die hekke open reeds om 07:00 en die program duur tot 16:30.

“Erfenisdag is vir ons ’n geleentheid om mense nie net van ons geskiedenis te vertel nie, maar om hulle dit te laat beleef. Van die bulder van historiese kanonne en die stories wat deur posseëls bewaar word, tot kinders wat brood bak, diere voer en met hul eie hande iets skep – hierdie fees bring erfenis tot lewe,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste.

’n Kinderprogram vir jong feesgangers

Die Trap der Jeugd-kinderprogram is vanjaar heelwat uitgebrei en bied kinders ’n wêreld vol aktiwiteite om te ontdek.

By die Pioniersentrum kan kinders hul kreatiwiteit uitleef met gesigverf, verf- en inkleurpret en ballonkuns. Hulle kan vars plaasbrood uit die buiteoond geniet, hul eie kettie maak en toets, en ’n modeltreintjie-uitstalling besoek.

Op die Plaaswerf wag nóg avontuur met plaasdiere wat gevoer kan word, perderitte, kameelritte, verfbal-skiet, trampolienspring, ’n kinderspeelarea, minigholf en die geleentheid om die gewilde dwergbokkies te vertroetel.

By die Lewende Laer kan kinders hul eie stokbrood maak én eet, kleiosse maak en aan ’n sweepklapkompetisie deelneem.

“Ons wou seker maak dat kinders nie net saam met hul ouers na die fees kom nie, maar dat die fees ook húlle fees is. Daar is iets om te verf, te bou, te bak, te ry, te voer, te skep en te ontdek. Dit is juis deur hierdie praktiese ervarings dat jongmense op ’n natuurlike manier met ons erfenis kennis maak,” sê Brand.

Historiese kanonskote

Een van die dag se besondere hoogtepunte vind skuins ná 13:00 plaas wanneer die ZAR Kanonniersvereniging deelneem aan ’n historiese landwye kanonkettingskoot.

Altesaam 31 kanonskote sal op verskillende plekke reg oor Suid-Afrika afgevuur word – van Simonstad en Kaapstad tot Lephalale. Dié inisiatief herdenk die historiese Hollandse kanonoproepstelsel wat gedurende die 17de en 18de eeu gebruik is om boodskappe oor groot afstande deur middel van rook- en klankseine oor te dra. By die Voortrekkermonument sal ’n replika van kanon Grietjie en Susanna hul historiese skote afvuur.

Filatelie bewaar die klein besonderhede van geskiedenis

Besoekers kan ook vanaf 24 tot 26 September die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria se besondere Erfenis 2026-filatelie-uitstalling in die Voortrekkersaal besoek.

Die uitstalling wys hoe posseëls, posstempels, poskaarte en ander posstukke as klein historiese dokumente waardevolle stories oor mense, plekke, gebeure en gemeenskappe bewaar. Versamelings sluit onder meer tradisionele filatelie, posgeskiedenis, tematiese versamelings, lug- en ruimtevaartfilatelie en eerstedagkoeverte in.

Musiek, mark en FAK-Skryf’it-finaal

Die dag se vermaakprogram begin vroeg met Toekomstalent, waar vorige FAK Skryf’it-finaliste die geleentheid kry om hul treffers op die verhoog te sing. Besoekers kan ook uitsien na optredes deur die Pretoria Volkspelelaers, die Barny Armstrong-boereorkes en die Wapadrand en Lekkerdraai Boeredanse.

Pieter Smith tree om 10:00 op, waarna ’n optog met veteraanmotors, perde, die brandweer en talle ander deelnemers die Markplein verder sal ophelder.

Die middag bring die FAK-Skryf’it-finaal, waar William Wolf, John-Henry Opperman, Andriëtte Norman, Ampie en Danie “Reënwolf” du Toit saam met hul finaliste optree. Die wenner van FAK-Skryf’it 2026 word om 14:20 aangekondig. Eloff en Elvis Blue sluit die musiekprogram af.

Meer as 150 stalletjies bied kos, kunsvlyt en ander produkte aan, terwyl besoekers ook Die Dameskring se teetuin in die FAK-Liedjietuin kan besoek.

Gewone toegang beloop R50 per persoon, met gratis toegang vir kinders jonger as ses jaar. Die toegangsgeld sluit vermaak, die erfenisheffing en parkering in. Vermy die ry deur jou kaartjies aanlyn te kry: vtm.org.za/erfenisfees