’n Brand wat Maandagoggend vroeg by die Bloedrivier-erfenisterrein in KwaZulu-Natal ontstaan het, het die woning en veiligheid van die terrein se bestuursegpaar en hul kinders regstreeks bedreig. Daar word vermoed dat die brand doelbewus gestig is en die Bloedrivier-erfenisterrein bied ’n R20 000-beloning aan vir inligting wat tot die identifisering, inhegtenisneming en skuldigbevinding van die verantwoordelike persoon of persone lei.
Die brand het omstreeks 03:30 op Maandag 10 Augustus uitgebreek. Judean Janse van Vuuren, finansiële bestuurder by die Bloedrivier-erfenisterrein, het wakker geword toe sy ’n rooi gloed en vlamme buite haar kamervenster opgemerk het.
Volgens Janse van Vuuren was die vlamme bykans dakhoogte en het digte rook die sig op die terrein beperk. Haar dogter, Veroelize, het ’n tuinslang gebruik om die woning en omliggende mure nat te spuit om te voorkom dat die vuur die huis bereik. Sy het later ook gehelp om die brand te blus en verskeie brandwonde opgedoen.
Die woning waarin die bestuursegpaar en Veroelize se twee kinders was, het binne die onmiddellike gevaargebied geval.
Moontlike brandstigting ondersoek
Olie is op verskeie plekke rondom die erf en by die kampeerterrein aangetref. Die omstandighede het daartoe gelei dat die bestuur die moontlikheid van doelbewuste brandstigting ondersoek.
’n Strafregtelike klag is reeds by die Kingsley-polisiekantoor ingedien.
“Ons beskou hierdie voorval as uiters ernstig. Wanneer ’n brand so naby aan ’n woning ontstaan dat mense en kinders se lewens in gevaar gestel word, kan dit nie bloot as ’n gewone veldbrand afgemaak word nie,” sê Janse van Vuuren.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, was saam met sy seuns, Niël en Daniël Langner, en ’n vriend op die terrein. Niël, ’n kommunikasie- en bemarkingsbeampte by die Kultuurtuiste, het wakker geword toe Janse van Vuuren om hulp geroep het en het saam met sy broer gehelp om die brand te bestry.
Tydens die bluswerk het warm olie teen Daniël Langner se bene opgespat. Hy het ligte brandwonde opgedoen wat permanente letsels gelaat het.
“Ons het eers nie geweet wat aangaan nie, want ons het wakker geword van iemand wat om hulp roep. Toe ek die deur oopmaak, het ek die vlamme gesien. Ek en my broer het begin om die vuur dood te trap, waarna ons op ’n stuk afgekom het wat ons nie kon doodtrap nie. Ons het besef dit is ’n oliekol,” vertel Niël.
Die brand is teen ongeveer 05:00 onder beheer gebring.
Infrastruktuur beskadig
Hoewel niemand ernstig beseer is nie, het die brand aansienlike skade aan die terrein se infrastruktuur veroorsaak.
’n Groot gedeelte van die kampeerterrein het afgebrand. Kragpunte en ander elektriese infrastruktuur is beskadig of vernietig, boorgatpompe het uitgebrand en die donkies se blyplek is beskadig.
Die terrein se diere benodig tans dringend kos en verdere versorging.
’n Boer uit die omgewing, Leonard Kùsel, het nadat hy om hulp gevra is, na die Bloedrivier-erfenisterrein gehaas en gehelp om die brand te bestry.
“Ons is dankbaar teenoor elke persoon wat daardie oggend opgestaan het om te help. Die ondersteuning van mense in die omliggende gemeenskap was van groot waarde,” sê Janse van Vuuren.
Bloedrivier en Ncome werk saam
Dr. Danie Langner beklemtoon dat die voorval nie as ’n aanval op die Ncome-museum of die Ncome-gemeenskap beskou word nie.
Die Bloedrivier-erfenisterrein en Ncome is aangrensende erfenisterreine en handhaaf goeie verhoudinge en samewerking. Daar is reeds met die Ncome-museum en gemeenskapsleiers in die Ncome-omgewing kontak gemaak om saam te werk om die persoon of persone verantwoordelik vir die brand te identifiseer.
“Ons wil nie hê dat ’n kriminele daad verdeeldheid moet skep tussen gemeenskappe en erfenisterreine wat goeie verhoudinge met mekaar het nie,” sê Langner.
“Die veiligheid van die hele gebied is belangrik. Wat by een erfenisterrein gebeur, kan gevolge vir die ander hê. Daarom moet Bloedrivier, Ncome, die gemeenskap en wetstoepassingsowerhede nou saamwerk.”
Weens die sensitiwiteit van die twee aangrensende erfenisterreine sal die voorval ook onder die aandag van die toepaslike nasionale misdaadintelligensie-owerhede gebring word.
R20 000-beloning vir inligting
Die Bloedrivier-erfenisterrein bied ’n R20 000-beloning aan vir betroubare inligting wat kan lei tot die identifisering, inhegtenisneming en skuldigbevinding van die persoon of persone wat vir die brand verantwoordelik is.
Enigiemand met inligting word versoek om dit aan die polisie of Bloedrivier se bestuur beskikbaar te stel.
Veiligheidsmaatreëls versterk
Bloedrivier-erfenisterrein gaan onmiddellik veiligheidsmaatreëls op die terrein versterk. Daar word onder meer gekyk na:
- verbeterde beligting rondom die terrein;
- bykomende brandblustoerusting;
- verbeterde kamerastelsels;
- versterkte sekuriteit rondom die museum;
- herstel van beskadigde infrastruktuur; en
- herstel van die donkies se blyplek.
Bloedrivier doen ’n beroep op ondersteuners, die gemeenskap en ondernemings om te help met die befondsing van hierdie veiligheids- en herstelmaatreëls.
“Die veiligheid van ons personeel, hul gesinne en besoekers kan nie aan toeval oorgelaat word nie. Ons gaan nie ná hierdie voorval terugstaan nie. Ons gaan die terrein herstel, veiligheidsmaatreëls versterk en voortgaan om Bloedrivier se erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar,” sê Langner.
Navrae, media-onderhoude en inligting oor die beloning:
Bloedrivier-erfenisterrein
Anton Jansen van Vuuren: Algemene bestuurder
084 288 3322
[email protected]
www.bloedrivier.org.za




