Die Kultuurtuiste skud sy feesvere reg om op 24 September, Erfenisdag, die grootste Erfenisfees tot nog toe by die Voortrekkermonument aan te bied. Vanjaar se tema, Toeka tot Toekoms, is ’n trotse viering van ons Afrikanerkultuur, erfenis, musiek en gemeenskap.
“Ons vra nie toestemming of verskoning om dít wat eie aan ons onbeskaamd te vier en koester nie. Ons sing en dans en kuier in ons taal, ons koester ons erfenis, en skep sélf ’n ruimte by die Kultuurtuiste wat mense nie net besoek nie, maar waar hulle tuiskom én tuis voel!”
Só sê Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste. Volgens Brand bou vanjaar se fees voort op die sukses van die 2025-fees, wat duisende besoekers gelok het toe die replika van die Paul Kruger-standbeeld op sy landwye reis vertrek het.
“Hierdie besonderse oomblik het die historiese karakter van Erfenisdag beklemtoon en ’n nuwe tradisie gevestig waar die geskiedenis én die toekoms hand aan hand gevier word. Vanjaar het ons nie net een kunstenaar nie, maar tien wat beslis in elke smaak sal val.
“Die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees gaan oor veel meer as net ’n enkele dag op die kalender. Dit gaan daaroor om ons taal, geskiedenis en kultuur te vier, en dit terselfdertyd met ’n toekomsvisie te verbind. Ons wil hê oud en jonk moet kom kuier en voel: dit is my plek, my mense, my taal, my kos, my musiek en my erfenis,” sê Brand.
Van jong talent tot bekende treffers
Die tema, “Van Toeka tot toekoms”, word deur die hele program weerspieël, met optredes deur gevestigde Afrikaanse kunstenaars én jong talent, tradisionele kultuuraktiwiteite, ’n groot kos- en snuffelmark en die finaal van die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie.
Besoekers kan uitsien na meer as 150 stalletjies, met van kos tot kunsvlyt. ’n Uitgebreide kinderprogram word ook by die Pioniersentrum en op die Plaaswerf aangebied, sodat jonger feesgangers hul eie avonture en aktiwiteite kan beleef.
Die musiekprogram begin reeds vroegoggend met opkomende sangers, gevolg deur die Pretoria Volkspelelaers, die Barny Armstrong-boereorkes en Lekkerdraai Boeredanse. Een van die oggend se hoogtepunte is die gewilde Afrikaanse kunstenaar Pieter Smith, wat om 10:00 optree.
Hierna word die Markplein verder opgevrolik deur die Cantina-blaasorkes, ’n verbyvlug deur tientalle sweeftuie en ’n besonderse optog met veteraanmotors, honde, perde, die brandweer en nog vele meer. Boeredanse deur die Wapadrand Boeredansgroep, asook optredes deur Tuin Schoeman en Logan Pietersen – onderskeidelik die naaswenner en wenner van FAK-Skryf’it 2025 – volg net hierna.
Om 13:00 vind ’n geskiedkundige gebeurtenis plaas wanneer die Suid-Afrikaanse Kannoniersvereniging ’n kanonskoot afvuur as deel van ’n historiese landwye kanonkettingskoot. Dit vorm deel van die viering van die Hollandse oproepstelsel wat tydens die Hollandse bewind aan die Kaap ingespan is om boodskappe met kanonne oor te dra. Altesaam 31 kanonskote sal in ’n kettingaksie reg oor Suid-Afrika afgevuur word – vanaf Kaapstad tot in Ellisras (vandag Lephalale).
Een van die groot hoogtepunte van die dag is die FAK-Skryf’it-finaal, wat kort ná 13:00 begin. William Wolf, John-Henry Opperman, Andriëtte Norman, Ampie en Danie Reënwolf du Toit sal hul finaliste se liedjies, asook van hul eie treffers sing, waarna die wenner van FAK-Skryf’it 2026 aangekondig word. Die dag se musiekprogram bereik ’n hoogtepunt met optredes deur Eloff en Elvis Blue.
“Vanjaar se program bied werklik iets vir almal. Van boeredanse, blaasorkeste en veteraanmotors tot groot Afrikaanse kunstenaars en die opwindende FAK-Skryf’it-finaal – dit is ’n fees waar gesinne en die gemeenskap die hele dag kan kuier. Die 200 stalletjies en ’n propvol kinderprogram maak dit ’n ware gesinsdag,” sê Brand.
Die fees se borg is Gemoedsrus, wat die geleentheid met trots ondersteun.
Kaartjies en toegang
Gewone toegang is slegs R50 per persoon en sluit vermaak, die erfenisheffing en parkering in. Kinders onder ses jaar geniet gratis toegang. Suid-Afrikaanse burgers kan ook die Voortrekkermonument op 24 September teen halfprys besoek.
Vir feesgangers wat die geleentheid van reg voor die verhoog wil beleef, is ’n beperkte aantal eksklusiewe Toekomskring-kaartjies beskikbaar teen R200 per persoon. Die Toekomskring bied ’n spesiale sitplek reg voor die verhoog, ’n botteltjie water, ’n happie-pakkie en drankie, asook gratis toegang tot die Voortrekkermonument.
Die hekke open reeds om 07:00 en die program duur tot ongeveer 16:00. Besoekers kan boonop die Filatelievereniging se spesiale seëluitstalling in die Voortrekkersaal besoek, aan Die Voortrekkers se opedagaktiwiteite deelneem, of smul in Die Dameskring se teetuin in die FAK-Liedjietuin.
Die Kultuurtuiste nooi gesinne en die hele gemeenskap uit om op 24 September saam te kom vier, kuier en onthou – en terselfdertyd met nuwe hoop na die toekoms te kyk.
- Bespreek vandag nog jou kaartjie: vtm.org.za/erfenisfees






