Die historiese Bloedrivier-erfenisterrein, naby Dundee in KwaZulu-Natal, het onlangs sy jaarlikse pa-en-seun-naweek aangebied, en vanjaar was dit die grootste en mees onvergeetlike een tot nog toe. Altesaam 28 seuns en 23 pa’s het die naweek bygewoon, met besoekers wat van so ver as Johannesburg en Centurion vir hierdie besonderse erfeniservaring gereis het.
Anton en Judean Jansen van Vuuren, die bestuurspaar van Bloedrivier, sê die naweek is ’n unieke geleentheid vir pa’s en seuns om saam te kuier, oor hul geskiedenis te leer en bande te bou wat vir ewig sal duur. Die program is saamgestel om nie net pret te bied nie, maar ook ’n diep gevoel van verbondenheid met die geskiedenis van Bloedrivier en die Gelofte te kweek. “Hier by Bloedrivier kan kinders weer kinders wees, terwyl hulle oor ons geskiedenis leer en die Gelofte eerbiedig,” sê Judean Jansen van Vuuren.
Gerrit Craffert, ’n plaaslike inwoner wat die naweek al sedert die eerste geleentheid in 2023 bywoon, sê sy deelname is gedryf deur ’n diep passie vir Bloedrivier en die geskiedenis daarvan wat hy met sy kinders wil deel. “Hierdie naweek bring ons kinders terug na die stof, modder en veld. Dit leer hulle om mens te wees en ’n bietjie afstand van tegnologie te doen. Ons en ons kinders moet weet waar ons wortels is.” Sy seun, Casper (7), geniet die pa-en-seun-naweek elke jaar en vertel dat sy gunstelingaktiwiteite by Bloedrivier is om kleidiere te maak, kettie te skiet, kleilat te gooi en natuurlik om roomys te eet.
Die propvol program het ook vuurmaak, waterpret, teikenskiet, en die maak van ’n spiespunt uit klip ingesluit, met die hoogtepunt om kanon Grietjie in aksie te sien.
Craffert vertel dat hy deur die voorbeeld van sy eie pa, wat die Gelofte aan hom oorgedra het, gemotiveer is om hierdie tradisie met sy kinders te deel. Hy hoop dat nog meer mense betrokke sal raak en hierdie betekenisvolle ervaring met ander sal deel.
Die pa-en-seun-naweek verbind gesinswaardes met die geskiedenis van die Gelofte en skep die stemming vir die komende Geloftefees van 14 tot 16 Desember, waar besoekers kan uitsien na die perdekommando, boeresport, perdesport, lanternloop en ’n boeresokkie – alles in ware Bloedrivier-styl. Hierdie fees is ’n jaarlikse hoogtepunt op die omgewing se kultuurkalender.
Besoek https://bloedrivier.org.za/geloftefees/ vir die volledige program.



