Die jaar 2025, ʼn jaar van mylpale – die 50ste bestaansjaar van die Taalmonument, ʼn eeufees van Afrikaans as amptelike taal, 150 jaar sedert die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), en Paul Kruger se 200ste verjaarsdag – bied ʼn besondere geleentheid om te besin oor dié wat gebou het en dié wat nou bou. Dit roep die beeld op van ’n aflosstokkie wat aan die volgende geslag oorhandig word, en die verantwoordelikheid om die taal, kultuur en erfenis voorentoe te dra.

Gees van groei en bou onveranderd

Taal is ’n fundamentele deel van wie ons is, dit anker ons in ons wortels en verbind ons aan ons geskiedenis en ons gemeenskap. Jongmense vandag ervaar ʼn wêreld wat radikaal anders is as dié van die pioniers van die verlede – tegnologie, sosiale media en internasionale invloede vorm hul wêreld op maniere wat vroeër ondenkbaar was. Tog is die kern dieselfde: die liefde vir ʼn taal, kultuur en erfenis wat se wortels hul identiteite vorm.

Hierdie gees van groei en bou, wat reeds in die jeug van pioniers soos S.J. du Toit en Johanna Brandt sigbaar was, leef voort in die jong generasie van vandag. Du Toit, gebore in 1847, het as jong student sy studies selfstandig aangepak en later die GRA help stig, waar hy gewaarsku het teen die verlies van Afrikaans en die grondslag gelê het vir ʼn kultuurbewustheid waaroor ons vandag nog sterk voel. Johanna Brandt, gebore in 1876, het as jong meisie ʼn passie vir taal en kultuur ontwikkel en later ʼn invloedryke skrywer en aktivis geword. Hierdeur het sy die pad voorberei vir die jonger geslagte wat sou volg.

 

Nie toeskouers maar aktiewe taaldraers

Hierdie simboliese aflosstokkie vind vandag weer vorm in jongmense wat die taal en kultuur uitleef. Andru van Zyl, hoofseun van die Afrikaanse Hoër Seunsskool in 2025, het vroeër vanjaar die FAK-prestigetoekenningsgeleentheid by die Voortrekkermonument geopen. Hy het besef dat die fokus vandag steeds op jong Afrikaanse stemme val en sê dat dit wys hoe lewendig en dinamies Afrikaans nog altyd was. “Die feit dat jongmense destyds bewegings begin het, en dat jong stemme vandag steeds  ʼn rol in ons samelewing kan speel, gee vir my hoop,” sê hy. “Dit beteken dat ek en my generasie nie net toeskouers is nie, maar aktiewe draers van die taal en kultuur.”

Amoré Knoetze, 2025 Presidente van Afrikaanse Hoër Meisieskool, wat saam met Andru die opening behartig het, het dieselfde idee beklemtoon: “Jongmense sal altyd die energie, kreatiwiteit en passie hê om verandering en vooruitgang mee te bring.”

Terwyl skoliere die aflosstokkie oorneem, werk jong volwassenes reeds in instellings soos die Kultuurtuiste om die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis lewendig te hou en dit relevant te maak in ’n moderne wêreld.

Erfeniseienaarskap nodig

Ettienne Hansen (20), ’n BSocSci-student aan die AP Akademie en geskiedenisnavorsingsintern by die FAK en Erfenisstigting, koester al van kleins af ’n liefde vir die Voortrekkermonument en Afrikanergeskiedenis. “Ek is opgewonde om te sien hoe ’n jonger Afrikaanssprekende geslag die taal hul eie maak. Of dit nou in musiek, letterkunde of blote spreektaal is, ons taal is lewendig. My droom is om te sien hoe Afrikaners eienaarskap neem oor hul erfenis en trots is op hul kulturele identiteit.”

Charles Rademeyer (26), kultuurkoördineer van die FAK, sien die rol van sy generasie as ’n brug tussen verlede en toekoms: “Ons rol is nie om alles presies te hou soos dit was nie, maar om die kern te behou terwyl ons dit vir vandag se wêreld aanpas. Ons moet Afrikaans leef in die digitale era, in musiek, in gesprekke, in werkplekke en in kuns – nie net in handboeke en museums nie.”

Bouers wat bly en plant

Hierdie generasie deel ’n eensgesinde visie vir Afrikaans en Afrikaner-erfenis: hulle wil dit nie net laat voortleef nie, maar wil hê dat dit in elke medium, van musiek en kuns tot digitale platforms, relevant moet bly vir vandag en môre. “Ons geskiedenis het begin met mense wat getrek het om hul geloof, taal en waardes te beskerm. My wens is dat ons weer só sal leef, nie as trekkers wat wegbeweeg nie, maar as bouers wat bly en opnuut hoop plant,” sê Rademeyer.

Die liefde vir Afrikaans staan sentraal in hierdie jong generasie se verbintenis aan hul wortels en aan mekaar, en beklemtoon ’n groter taak: om die taal en kultuur nie net te bewaar nie, maar dit te laat groei. Soos die pioniers van lank gelede dra hulle die aflosstokkie met ’n gees van bou en vooruitskouendheid, en wys dat Afrikaanse identiteit en erfenis steeds ’n dinamiese krag is wat deur elke generasie hernu word.

  • Marike Kilian het ’n honneursgraad in korporatiewe kommunikasie en werk as kommunikasie- en bemarkingsbeampte by die Voortrekkermonument.