50 mans. 56 vroue. 185 kinders. 250 knegte. Dit is hoeveel onskuldige slagoffers die 17de Februarie 1838 die hoogste prys betaal het tydens die Bloukransmoorde, ook bekend as “Die groot moord”.

Na die moord op Piet Retief en sy manskappe gee koning Dingaan aan sy krygers opdrag om die Voortrekkerlaers by Bloukrans en Weenen aan te val. Gedurende die nag van 17 Februarie 1838 word die niksvermoedende Voortrekkers deur ongeveer 10 000 Zoeloekrygers aangeval.

Die Voortrekkers is van 2500 beeste en skape beroof en oorlewendes het bykans alles verloor.

“Wat by Bloukrans gebeur het, was nie net ’n aanval nie. Dit was genadeloos, brutaal en moorddadig. Hierdie wreedheid het skokgolwe deur die Voortrekkergemeenskap gestuur en dit het aanleiding gegee tot die strafekspedisie by Bloedrivier,” sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK.

Die Voortrekkermonument is in besit van waardevolle items en artefakte wat hierdie tragiese gebeure onthou en dit is vir die publiek beskikbaar om te aanskou, onderskeidelik in die Heldesaal, Senotaafsaal en Vrijheidsreisuitstalling.

Johanna van der Merwe-wa

Johanna van der Merwe was krities gewond met nie minder as 20 assegaaisteke nie. Die Voortrekkers het haar met boererate verpleeg en sy het gesond geword en eers op ’n hoë ouderdom gesterf.

Tydens die Eeufeesherdenking van die Groot Trek in 1938 is een van die waens Johanna van der Merwe genoem uit erkenning vir die gewonde dogter wat Bloukrans oorleef het.

Aandenkings van Johanna van der Merwe is ’n koletang wat aan haar man behoort het en ’n gereedskapkissie wat sy waarskynlik vir naaldwerk of as skryfkissie gebruik het. Besittings van die gewonde Voortrekkers by Bloukrans wat na die Slag van Bloedrivier in Dingaanstat opgetel is, is ook deel van die uitstalling.

Die bebloede Voortrekkerkappie

In die Senotaafsaal is die bebloede kappie te sien. Die materiaal is geskeur waar die assegaai die lap binnegedring het. Dit was waarskynlik die kappie van ’n baba wat reeds dood was, aangesien ’n kopwond baie bloei en die bloed op die kappie min is in vergelyking daarmee.

“Die geskiedenis van Bloukrans is belangrik om die konteks van Bloedrivier en die Gelofte te begryp,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument. “Die bebloede Voortrekkerkappie van ’n baba is maar net een van die kosbare items wat ons het om daardie aand te onthou.”

Wakis van Maria Catharina de Bruin

’n Wakis van Maria Catharina de Bruin (née Prinsloo), wat by Bloukrans gewond is, is ook in die Senotaafsaal te sien, saam met ander besittings wat byvoorbeeld aan Johanna van der Merwe behoort het.

Die Bloukransslagting word op die tapisserie uitgebeeld

Aangesien die marmerfries hoofsaaklik die rol van die man in die Groot Trek uitbeeld, het mev. Nellie Kruger tydens ’n praatjie die voorstel gemaak dat vrouens ’n tapisserie maak wat die rol van die vrou in die Groot Trek uitbeeld. ’n Komitee is gevorm wat as die Tapisserie-reëlingskomitee bekend gestaan het.

Die middel van die toneel word oorheers deur die brandende waens, gebreekte speke, stukke vellings en ’n ysterband wat afspring. Vrouens kerm en bid; links voor speel die wind deur die verflenterde blaaie van ’n Statebybel en regs agter spring die dapper Italiaanse vrou, Thérèsa Viglione, op ’n perd om die res van die Voortrekkers te gaan waarsku. Sy was die vrou van ’n Italiaanse handelaar wat hulle in die omgewing bevind het. Die nag van verskrikking en verwoesting word dramaties uitgebeeld deur die rookwolke, vlamme en silhoeëtte van Zoeloekrygers met knopkieries en assegaaie.

WH Coetzer-skildery

WH Coetzer het die Bloukranstoneel, asook ander tonele van die Groot Trek wat ook in die Senotaafsaal te siene is, geskilder.

Die oorspronklike friespaneel wat die Bloukranstoneel uitbeeld

Die 14de friespaneel in die Heldesaal van die Voortrekkermonument beeld die Bloukranstoneel uit. Voor die friese uit klip gekap is, is daar eers kleiner friese uit gips gemaak. Die oorspronklike gipsfries van die Bloukranstoneel is in die Vrijheidsreisuitstalling te sien. Die uiteindelike fries wat in die Heldesaal te sien is, is versag teenoor die wrede toneel op die oorspronklike gips fries.

Replika van die Bloukransmonument in die Historiese Trekroetetuin

Die Voortrekkermonument spog ook met ’n replika van die Bloukransmonument. Die Bloukransmonument in KwaZulu-Natal herdenk die grusame slagting van honderde Voortrekkers. Die replika is uit harskunsmateriaal gemaak.

Kommandant-generaal Piet Joubert van die voormalige ZAR het in die Transvaal steun vir die bou van die monument gewerf en met die insameling van die fondse gehelp. Joubert het ook die hoeksteenlegging op 16 Februarie 1895 waargeneem. Die oorskot van die oorledenes wat uit grafte opgegrawe is, is onder die hoeksteen herbegrawe.

Die Bloukransmonument se obelisk is van marmer gemaak en staan op ’n voetstuk van klip. Dit is ongeveer 7 m hoog en is deur professor Nicilo van Carrara in Italië vervaardig. Die onthulling het op 17 Februarie 1897 plaasgevind.

Grietjie Prinsloo-beeld in die Historiese Trekroetetuin

Die beeld van die Voortrekkerheldin Grietjie Prinsloo is ook in die Historiese Trekroetetuin te sien. Tydens die Bloukransaanval, het die 16-jarige Prinsloo 26 assegaaisteke opgedoen en dit oorleef.

Grietjie se beeld herinner aan die lyding, maar ook die dapperheid van die Trekkers tydens en na die aanval. Die gebeure by Bloukrans het ’n paar helde na vore gebring.

Name van die Bloukransslagoffers en ’n gedig deur CJ Langenhoven

Die Voortrekkermonument het ’n bord in die Historiese Trekroetetuin opgerig van die name van die slagoffers wat by Bloukrans gesterf het en daarmee saam ook bome geplant om die dag te herdenk.

’n Gedig oor Bloukrans deur CJ Langenhoven word op ’n bord vertoon en kleur die somber gebeure verder in.

“Bloukrans is ’n belangrike gebeurtenis in ons geskiedenis. Hierdie artefakte wat by die Voortrekkermonument bewaar word, skep konteks vir die traumatiese ervaringe en bring op hierdie manier ook hulde aan die slagoffers,” sê Leonie Marais, erfenishulpbronadviseur by die FAK en Voortrekkermonument.

Die Voortrekkermonument wil elkeen uitnooi op die herdenkingsdag van Bloukrans, Saterdag 17 Februarie, die monument te kom besoek en spesifiek by hierdie items te vertoef.

Jou vriendskap kan ons help om jou erfenis vir jou nageslag te bewaar www.vtm.org.za\donasies\