“Elke skoolgroep wat hier aankom, is ’n geleentheid om ’n saadjie te plant oor ’n liefde vir geskiedenis en ’n verskil te maak in die jeug se lewens. Om soveel leerders in een week te ontvang, is ’n reusevoorreg.”

Christiaan Jordaan, toerismebestuurder van die Voortrekkermonument, se glimlag is aansteeklik as hy vertel oor hoe die Voortrekkermonument die jeug inspireer om meer te leer van ons geskiedenis.

In die week van 6-10 Mei het vier skoolgroepe die Voortrekkermonument besoek, onder wie 471 leerders. Die skole wat by die monument besoek afgelê het, is Raslouw Academy, Laerskool Uitkyk, Molefe Mooke Primary en Mphebatho Primary School van Hammanskraal.

“Skole kom van ver om hul leerders oor ons kultuur en erfenis te leer. Elke leerder wat hier wegstap met ’n bietjie meer kennis van ons land se geskiedenis en kultuur, is ’n belegging in ons toekoms,” sê Jordaan.

Skooluitstappies na die Voortrekkermonument is lankal nie meer net ’n storievertellingstoer nie, maar ’n belewenis en ’n interaktiewe reis deur tyd. Skole het die opsie om uit ’n lys aktiwiteite te kies waaraan kinders interaktief kan deelneem. Aktiwiteite sluit onder meer verskeie demonstrasies in, soos broodbak, kanonskiet en sweepslaan. Leerders kry ook ’n geleentheid om die plaaswerf te besoek en interaksie te hê met die diere.

In Maart het die Voortrekkermonument berig dat daar ook vakansieprogramme aangebied word vir skoliere wat in hul vakansietyd aan pretaktiwiteite by die monument wil kom deelneem.

“Dit is ’n wonderlike voorreg om ’n plek te hê waar ons kinders tuis kan voel,” sê Esté Cilliers, skoleprojekbeampte by die Pioniersentrum. “Om soveel kinders hier te ontvang, maak ons baie opgewonde.”

Hierdie skoliere is die toekoms van die land, daarom is dit vir die Voortrekkermonument altyd ’n voorreg om soveel jongmense hier te ontvang. As jy jou skool of klas na die Voortrekkermonument wil bring, stuur gerus ’n e-pos aan besprekings@kultuurtuiste.org.za.