36 jaar na die vervaardiging van ’n historiese kanon vind die gereedskap waarmee die kanon gemaak is ’n tuiste by die bastion van erfenisbewaring.

Vir enige iemand anders was dit ’n gewone geskiedkundige Facebook-plasing oor die Ras-kanon genaamd Martienie, maar vir Christelle Smit het dit ’n ander betekenis gehad. Dit is háár skoonpa se handewerk en vakmanskap daardie.

Op 14 Mei 2024 bring oom Hannes Smit (87) en sy gesin ’n waardevolle skenking aan die Voortrekkermonument en ’n storie wat nuwe lewe in die bestaan van die Ras-kanon blaas.

Die Ras-kanon genaamd Martienie is die eerste kanon wat ten volle in Suid-Afrika vervaardig is. Dit is gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) deur Martinus Ras, sy broer Hermanus en hulle neef Eduard op die plaas Bultfontein vervaardig. Die replika is in 1988 met die hulp van Yskor vervaardig.

Oom Hannes Smit was deel van die Yskor-span wat die replika vervaardig het. Hy skenk foto’s van die oorspronklike Ras-kanon wat gebruik is om die replika te vervaardig aan die Erfenisstigting op bruikleenbasis, asook van die gereedskap wat hy gebruik het om die replika te help maak.

“Hierdie erfenis gaan maklik verlore. Binne een geslag is dit weg, daarom is ons baie dankbaar vir mense soos oom Hannes wat hulle storie met ons kom deel. Die vaardigheid om ’n kanon te maak, is ook baie skaars en min mense kan vandag sê dat hulle daardie vaardighede het,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Langner sê dat dié kanon wat nou by Fort Schanskop staan, deel sal uitmaak van ’n latere uitstalling by die Kruger-galery. “Oom Hannes het dit nie daardie tyd besef nie, maar hy was besig om saam met Yskor nuwe geskiedenis te skryf. Elke dag is ons besig met nuwe geskiedenis en ons besef dit nie altyd nie.”

“Ek wou hierdie skenking kom maak, want dit is waar ons geskiedenis bewaar word. Ons gesin kom baie by die monument en is elke jaar die 16de Desember hier,” vertel Smit.

Martienie is in 2003 deur die Brits-kommando met die afskaffing van die kommandostelsel aan die Voortrekkermonument geskenk. Die kanon word by Fort Schanskop bewaar.