Die Voortrekkermonument bied van nou tot die einde van die jaar ’n rekordgetal van meer as sestig geleenthede op sy terrein aan.

Hierdie sluit groot feeste, musiekfeeste, pretdae, markte en nog vele meer in.

“Uit die laaste drie jaar, het ons vanjaar die  meeste feeste en geleenthede nog op die terrein. Ek dink mense begin uiteindelik besef ons terrein is soveel meer is as net die monument. Dit is ’n kultuurtuiste.”

So sê Henk Maree, koördineerder van funksies en fasiliteite van die Voortrekkermonument.

Hierdie sluit nie eers die groot feeste en konserte in soos Steve Doen, Militêre Fees en parkruns wat reeds in die eerste kwartaal van die jaar aangebied is nie.

“Die Voortrekkermonument se terrein verleen hom daartoe om ’n groot verskeidenheid geleenthede aan te bied, van feeste en konserte tot verjaarsdagpartytjies en troues. Ons hoop dat die mense wat hierdie feeste besoek, weer sal terugkeer en weer ’n geleentheid by die monument sal kom hou,” sê Maree.

Die publiek kan uitsien na nog groot konserte wat aangebied kan word; die Erfenisfees en Gelofteweekfeesvieringe is weer groot datums op die kalender.

“In die laaste twee jaar het ons daarin geslaag om ons fasiliteite op ’n gehalte te kry waar ons groot en klein groepe mense kan huisves. Of dit nou in groot konserte is waar ons 30 000 mense ontvang, of kleiner meer intieme funksies, ons kan daarby aanpas,” sê Maree.

Hier is ’n lys van die groot feeste wat nog hierdie jaar aangebied gaan word:

 

1 Junie – Glimlag-fees: ’n Dag vol vreugde en pret vir die hele gesin!

17 Junie – Antiekmark: Ontdek unieke skatte en ou herinneringe.

22 Junie – Erfenis is groot-fees

29 Junie – Wel Wees-fees: ’n Fees vir die hele gemeenskap om saam te kom vier.

6 Julie – Mampoerfees: Proe die unieke geure van ons plaaslike mampoer!

27 Julie – Jopie-fees: Vir ’n dag vol avontuur en vermaak vir almal.

9 Augustus – Antiekmark: Vind jou stukkie geskiedenis tussen die antieke skatte.

31 Augustus – Lentedans: Kom dans saam en vier die begin van die lente.

24 September – Erfenisfees: Ons eie ryk geskiedenis gevier in ’n dag vol kultuur.

4 en 5 Oktober – Country-fees: Trek jou stewels aan vir ’n wegbreek na die platteland.

14, 15 en 16 Desember – Geloftefees: Onthou ons geskiedenis en erfenis.

Besoek gerus die Voortrekkermonument se kultuurkalender om seker te wees dat jy niks misloop nie: https://vtm.org.za/kalender/.