Shalyn Jooste, of Shay soos mense haar ken, eienares van Plaasdam, se passie is omgewingsgebaseerde oplossings. Dit is dus nie toevallig dat haar besigheid, Plaasdam, daarop gerig is om vir mense ’n koste-effektiewe oplossing te bied om ’n plaasdam in hul erf op te rig nie.

Jooste het in 2023 die Voortrekkermonument gehelp om ’n plaasdam by die Pioniersentrum op te rig.

“’n Plaasdam dra by tot die plaasgevoel wat ons by die Pioniersentrum wil skep. Ons uiteindelike doel is om die dam toeganklik te maak vir kinders om te kan swem, maar vir eers gebruik ons dit vir besproeiing en koste-effektiewe wateroplossings,” sê Danie Dreyer, sekuriteitshoof van die Voortrekkermonument.

Jooste vertel ten midde van Suid-Afrika se waterkrisis, wil mense van boorgatwater gebruik maak en watertenks oprig. “Ons plaasdamme bied ’n oplossing vir mense. Die dam kan gebruik word vir ontspanning soos swem, of kan as ’n tipe watertenk gebruik word. Ons belowe ’n 20-jaar-plus waarborg vir ons kliënte,” sê Jooste.

Dreyer getuig dat Jooste se diens uitstekend is en dat sy die Voortrekkermonument bystaan met goeie nasorg. “Shay was al vyf keer by ons om op te volg en te help met die waterstelsels wat ons wil implementeer,” sê Dreyer.

Jooste vertel dat Plaasdam in 2020 begin het, toe haar vriende Bianca en Christan Marais ’n plaasdam in hul tuin wou oprig. Hulle was verplig om 20 plaasdamme te koop, omdat plaasdamme blykbaar nie een-een by die vervaardiger gekoop kon word nie.

“Bianca-hulle het die fondasie vir die besigheid gelê. Bianca sê toe vir my ek het die beter kop vir besigheid en dat ek die besigheid kan oorneem. Plaasdam bied nou vir mense die geleentheid om ’n plaasdam te kan afbetaal oor ’n tydperk en so maak ons dit meer toeganklik vir mense,” vertel Jooste.

Jooste droom groot vir haar besigheid. “Ek wil hê dat mense hul plaasdam regdeur die jaar kan benut. Daarom kyk ek na opsies om die plaasdam ook in die vorm van ’n warmwater-borrelbad aan mense te bied vir die winter.”

As ’n plaasdam soos die regte keuse vir jou huis klink, stuur gerus ’n e-pos aan info@plaasdam.co.za, of besoek gerus hul Instagram- of Facebook-profiel.