Mediaverklaring

10 Oktober 2023

Byna 3000 skoolleerlinge het die Voortrekkermonument in Erfenismaand besoek

“Om die energie, ywer en opgewondenheid van die naastenby 3000 skoliere in een maand op Voortrekkermonument se terrein te sien, weet mens die volhoubare voortbestaan van ons erfenis is op die regte pad.”

Simoné Cloete, waarnemende toerismebestuurder by die Voortrekkermonument, sê in September vanjaar het 13 skoolgroepe van 12 skole en 2981 leerlinge meer kom leer van dié baken van hoop, die Voortrekkermonument.

“Om soveel kinders op die terrein te sien in Erfenisfmaand, is werklik ’n riem onder die hart. Ek voel positief oor almal se toekoms in ons land as ek sien wat aangaan in die harte van ons kinders. Hulle wil leer, hulle wil speel en lag. En dis presies wat hulle by ons kom ervaar het!”

Cloete wys verder daarop dat die Voortrekkermonument weekliks gasheer speel vir verskeie skole. “Dit is vir die Voortrekkermonument veral spesiaal om so baie skole in ’n kort periode van tyd te ontvang.”

Skole kan verskillende pakkette by die Voortrekkermonument vir ’n skoolbesoek boek. Dit sluit ’n toer deur die Voortrekkermonument in en ook aktiwiteite by die Pioniersentrum, soos broodbak op die tradisionele manier, boeresport speel, na die werfdiere omsien en so meer.

“Vandag was baie lekker om te kon leer oor die geskiedenis. Dit was veral lekker om deur die Trekroetetuin te stap en te sien hoe die mense getrek het,” sê Ruan Kritzinger (11).

“Dit is vandag my eerste keer by die Voortrekkermonument en ek hou die meeste van die diere en die geskiedenis,” sê Zelmarie Pienaar (7).

“Die Groot Trek-geskiedenis word nie meer op skool geleer nie, maar vir my is dit van die mooiste dele van ons land se geskiedenis, daarom het ek besluit om die kinders hierheen te bring,” sê Tuané Hatting, onderwyseres van Hoërskool Centurion.

Dit is vir die Voortrekkermonument belangrik om vir kinders ’n plek te gee waar hulle hul eie kultuur kan beleef en kan ervaar en te leer deur om pret te hê. Sluit aan as ’n vriend van die Voortrekkermonument en help ons om ons erfenis toeganklik te maak: https://vtm.org.za/ondersteun/.