‘n Groep van 17 studente van die Grindsted-landbouskool in Denemarke, is in Suid-Afrika vir ’n 10 dae lange toer en hulle eerste besoekpunt was die Voortrekkermonument.

Van die studente het spottenderwys gesê “dit sneeu nou in Denemarke en ons sweet nou hier in Suid-Afrika”.

Dit was hierdie groep se heel eerste besoek aan Suid-Afrika en hulle sien die meeste daarna uit om meer te leer van die kultuur in ons land.

“Ons leer niks van Suid-Afrika se geskiedenis in Denemarke nie. Dit is eintlik skokkend dat ek niks geweet het van die geskiedenis nie. Ek het ook glad nie geweet van die plek nie. Die klippe (friespanele waarop die geskiedenis van die Voortrekkers uitgebeeld word) is ongelooflik mooi gedoen,” sê Brigitte Lund.

Rasmus Jensen wil ook meer van Suid-Afrika se kultuur leer.

“Die ontwerp van die gebou (Voortrekkermonument) en hoe die geskiedenis hierby inpas is werklik fenomenaal. Dit is baie goed gedoen hoe jy die geskiedenis kan volg reg rondom die monument. Ek moet sê ek het self ook niks geweet van Suid-Afrika se geskiedenis nie,” sê Jensen.

Lund en Jensen is dit eens dat nog ’n hoogtepunt die uitsig is wat die monument bied as jy op die boonste loopvlak staan.