Hy is net bly dat hy op sy oudag só iets kan doen.

Só sê Jan Adriaan Oosthuizen (88), ’n boer van die Morgenzon-distrik naby Ermelo in Mpumalanga, oor die vervoerwa wat hy verlede jaar aan die Voortrekkermonument geskenk het.

Oosthuizen het Donderdag, 10 Februarie 2022, saam met sy dogter, Wilma Lindeque, haar man, Hannes en hul kinders, Wihanli  Bezuidenhout en Hannes, die Voortrekkermonument besoek om na dié wa in sy nuwe tuiste te kom kyk. Wilma se skoonma, Ralie Becker, en skoonseun, Marius Bezuidenhout het die gesin vergesel.

Jan Adriaan Oosthuizen (88) (middel) saam met sy dogter, Wilma Lindeque. Links van hulle is Wilma gesin van links: Hannes Lindeque en sy ma, Ralie Becker. Regs is Wihanli Bezuidenhout, Hannes Lindeque en Marius Bezuidenhout voor die Voortrekkermonument.

Oosthuizen vertel hoe hy hierdie ossewa in 1972 ontdek het toe hy die plaas Uitzig gekoop het. Die wa was in ’n skuur op die plaas. Hy het nooit die skuur gebruik nie weens die historiese wa wat daarin gestaan het.

Hy het wel verlede jaar besluit om die ossewa ’n nuwe tuiste te gee omdat dit net staan en vergaan het in die skuur.Hy het toe vir Wilma gevra om op sosiale media te kyk of iemand nie dalk in die wa belangstel nie.Sy het toe agtergekom dat mense duisende rand vir ossewaens betaal en na haar pa toe gegaan met die goeie nuus.

“Ek het vir haar gesê ek wil nie hê die wa moet vergaan nie. Ek wil nie geld hê vir die ossewa nie. Ek wil hê dit moet bewaar word. Ek het toe dadelik besluit die Voortrekkermonument is die regte plek waar die ossewa sy laaste staanplek moet kry,” vertel Oosthuizen.

Hierdie ossewa wat eersdaags die JA Oosthuizen-wa sal heet, is nou deel van die Lewende laer by die Voortrekkermonument.

Jan Adriaan Oosthuizen (88) van die Morgenzon-distrik in Mpumalanga saam met Jaco van Rensburg, bestuurder van die Lewende laer by die Voortrekkermonument, by die ossewa wat hy verlede jaar aan dié monument geskenk het en wat eersdaags die JA Oosthuizen-wa sal heet.

Jaco van Rensburg, wat saam met sy vrou, Endriëtte, aan die stuur van sake by die Lewende laer staan, het verlede jaar gehelp om die wa van Mpumalanga na die monument te vervoer.

Hy het destyds aan Oosthuizen gesê dit is vir hulle ’n groot voorreg om die wa te ontvang.

“My oom, ons is baie bly oom gee die ossewa vir ons om te bewaar. Ons gaan dit reg doen. Oom moet by die monument kom kuier en vir oom se wa kom kuier. Baie dankie dat oom ons vertrou met die stuk geskiedenis,” het Van Rensburg gesê.

Dis toe juis wat Oosthuizen in die nuwe jaar nadat hy  aan die einde van verlede jaar ’n hartaanval gehad het, gedoen het. Wilma het dit goed gedink dat haar hele gesin haar pa moes vergesel. Oosthuizen se kleindogter en haar man vertrek Saterdag na Australië. Hulle het vooraf eers die monument self besoek.

Van Rensburg het Oosthuizen belowe dat hy binnekort die ossewa sal restoureer.

“Oom moet net ’n maand vashou,” het hy gesê soos hy liefderik oor die hout van die wa gestreel het.

Jan Adriaan Oosthuizen (88) van die Morgenzon-distrik in Mpumalanga kyk saam met Jaco van Rensburg, bestuurder van die Lewende laer by die Voortrekkermonument, na die ossewa wat hy verlede jaar aan dié monument geskenk het.

Die Van Rensburgs het in die afgelope paar maande twee ossewaens gerestoureer wat in die Lewende laer getrek is.

In die Lewende laer, wat uit sewe ossewaens bestaan, aan die oostekant van die monument, wys hy en Endriëtta besoekers daagliks hoe die Voortrekkers geleef het. Die gerestoureerde waens sal met beddens toegerus geword. Die gedagte is dan dat mense in die waens sal kan kom oornag, terwyl hulle vir die gaste kos op die vuur sal voorberei.

Jaco Cilliers, die hoof van Erfenisbewaring by die Erfenisstigting by die monument, het Oosthuizen en sy gesin op ’n begeleide toer deur dié monument geneem.

Hy sê so ’n skenking is van onskatbare waarde vir Afrikanererfenis.