Die bekende beeldhouer Hennie Potgieter se Klipspringer-beeld staan nou breëbors voor die Voortrekkermonument op sy klip.

Die monument en die Erfenisstigting is nou die trotse bewaarders van beeldhouwerk van een van die mees bekende beeldhouers in Suid-Afrika.
Agt beelde van Hennie Potgieter, wat van brons en gips gemaak is, is aan die monument op ’n bruikleenooreenkoms oorhandig.

Sy dogter Kitta Potgieter, wat in Skotland bly, het versoek dat die monument die beelde bewaar nadat haar suster Olga, wat ongetroud was, verlede jaar oorlede is.

Die Klipspringer-beeld was Kitta se gunstelingbeeld van haar pa.

Dit is net gepas dat die beeld nou vir die monument staan en kyk.

In Desember 1947 het Potgieter saam met sy vrou Bettie, en Laurika Postma na Italië gereis om toesig te hou oor die ontginning van marmer vir die friese in die Voortrekkermonument.

In 1987 ontvang Hennie Potgieter ’n medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarna hy in 1992 oorlede is.

Groot dank aan Rieks Towing wat gehelp het om die oorspronklike klip waarop die beeld gestaan het, wat meer as ’n ton weeg, te help vestig in die Historiese trekroetetuin.