“Dit het my asem weggeslaan. Ek kan nie glo die roetes is hier en dit is so oulik gedoen nie.”

Dit was die reaksie van Roe-Hetta Ras, ’n toergids verbonde aan die Instituut vir Professionele Toergidse van Suider-Afrika, toe sy en ander toergidse Dinsdag (25 Januarie 2022) vir die eerste keer deur die Historiese trekroetetuin begelei is.

Heidi Lehodey en Roe-Hetta Ras, twee toergidse, loop deur die nuwe Historiese trekroetetuin by die Voortrekkermonument.

Dit was die eerste groep toergidse wat vir ’n opleidingsessie deur die trekroetetuin by die Voortrekkermonument geneem is sedert dit op 9 Desember amptelik geopen is.

Ras, Brenda Paro en Heidi Lehodey is deur die tuin geneem deur Barry Müller, die projekleier van die trekroetetuin, en hulle kon nie uitgepraat raak oor hoe goed die geskiedenis van die Voortrekkerleiers uitgebeeld word nie.

Barry Müller, projekleier van die Historiese trekroetetuin by die Voortrekkermonumet wys toergidse, Heidi Lehodey, Brenda Paro, Roe-Hetta Ras deur hierdie tuin.

Die afgelope paar maande is ’n enorme projek aangepak aan die oostekant van die Voortrekkermonument deur die vyf Voortrekkerroetes wat in die vyftigerjare daar uitgelê is, te restoureer.

Die tuin, wat in 1963 voltooi is, het in 2021 ’n nuwe baadjie aangetrek. In hierdie fokustuin word die roetes van die Groot Trek se vyf Voortrekkerleiers – Louis Trichardt, Hendrik Potgieter, Gerrit Maritz, Piet Retief en Piet Uys – aangedui.

Daar is verskeie inligtingsborde oor die Voortrekkers en verskeie replikas van historiese monumente wat op die trekleiers se roetes opgerig is, soos die Bloukransmonument, die Geloftekerk en die Kaalvoetvroumonument, om net ’n paar te noem.

“Ek sal sommer my vriendin en haar man van die Kaap af nooi dat ek hulle deur die tuin kan vat. Dit is werklik oulik gedoen. Dit is ’n wonderlike toevoeging tot die monument se toerisme-aanbod en baie goed visueel uitgelê,” sê Lehodey.

Paro sê die Voortrekkermonument is in baie gevalle die eerste vertrekpunt vir internasionale toeriste op hulle reis deur die land en ’n baie goeie plek om te begin om die geskiedenis van die land te verstaan.

Toergidse beleef die Historiese trekroetuin by die Voortrettermonument vir die eerste keer self.

Hulle almal is dit eens dat “ons brein nou geprikkel is oor watter kliënte ons na die tuin toe kan bring”.

Daar word nog verskeie sessies met toergidse beplan.