VTM-ossewa herstel

Binne drie maande het man en vrou sy aan sy ’n ossewa by die Voortrekkermonument in Pretoria na sy vorige glorie herstel.
 
Jaco en Endriëtta van Rensburg, wat sedert verlede jaar die Lewende Laer by dié monument bedryf, het maande lank bly skaaf en timmer aan die ossewa tot die uiteindelike eindproduk.
 
Dié ossewa spog met ’n splinternuwe tentkap, ’n nuwe laag groen verf en groot gedeeltes van die oorspronklike houtbalke is vervang. Daar sal binnekort ook volkskuns aan die historiese ossewa aangebring word.
 
Jaco, ’n lid van die Trekboervereniging, vertel dit was nie nodig om die onderstel van die ossewa te vervang nie.
Jaco en Endriëtta van Rensburg by herstelde ossewa
“Wa-bou ken ek. Die seil vir die tentkap was 5,5 m lank en 1,8 m wyd. Endriëtta moes die seil oor drie tafels laat hang om dit met die naaimasjien aanmekaar te stik.”
 
Volgens hom is dit spesiale seil wat dig geweef is en eintlik vir skepe gebruik word.
Hy het in 2013 saam met ’n vriend van hom wat ’n kakebeen-ossewa gehad het, betrokke geraak met die herstel daarvan ter viering van die Groot Trek 175. In 2015 het hy sy eie eerste ossewa, “Drommedaris”, opgebou. Met dié ossewa het die egpaar baie uitstallings oor die land heen gaan bywoon.
 
In die Lewende Laer, wat uit sewe ossewaens bestaan, aan die oostekant van die monument, wys hy en Endriëtta besoekers daagliks hoe die Voortrekkers geleef het.
 
Van Donderdag tot Sondag bly hulle in hul eie ossewa wat in dié laer getrek is. Kos en koffie word op die vuur in die middel van die laer gemaak. Voor die koffie egter in ’n ketel op die vuur geprut word, word die rou koffiebone eers ook op die vuur gerooster en dan gemaal. Endriëtta maak ook self kerse, bak brood en karring botter, terwyl Jaco weer koeëls uit lood giet en daagliks wys hoe ’n voorlaaier met swartkruit skiet.
 
“Ons fokuspunt is om kinders hierdie kultuur te wys. Dít is wat vir ons lekker is. Ons het self ook kleinkinders. Ons moet dit bewaar en uitleef. Dit moet lewend gehou word en lewendig wees.”
 
Die Van Rensburgs sal binnekort begin om nog een van die ossewaens in die laer te restoureer en met beddens toerus. Die gedagte is dan dat mense in die waens sal kan kom oornag, terwyl hulle vir die gaste kos op die vuur sal voorberei.
Jaco en Endriëtta van Rensburg by herstelde ossewa

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê hy is baie opgewonde oor die Lewende Laer. Dit was juis Langner wat die gedagte van só ’n laer ten sterkste ondersteun het en die Van Rensburgs betrek het om dít te laat lewe.

Wa voor dit herstel is