Deur Du Preez de Villiers

“Die hel stink,” sê Gertruida van Wyk in PG du Plessis se meesterwerk Fees van die ongenooides. ’n Driewoordsin oor die haglike omstandighede in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) wat jou soos ’n vuishou tref.

Soos ons Konsentrasiekkampherdenkingsdag op 16 Junie onhou, doem beelde van ma’s met dood in hul oë en ’n gestorwe kind in die arms agter doringdraadheinings op. Sypel die ontmensliking van die 18-jarige Susan Nell deur twee Britse offisiere en ’n joiner in die Winburg-kamp in Francois Smit se Kamphoer (die Afrikaanse verwerking van Nico Moolman se The Boer Whore) die gange van jou siel ongesiens binne.

Nell onthou: “… asof sy in die oog van die warrelwind staan – en neergesmyt word tussen ’n werpsel tente op ’n godverlate Vrystaatse vlakte.” En: “… ek word aan my been tussen die tente deurgesleep en by die kampopsigter se tent ingestamp …”

Nie fiksie, skokkende feite

Pure fiksie, kan ’n mens die ontreddering, die ontsieldes en ontslapenes van op ’n (t)raak-my-nie-afstand probeer hou. Maar die filterlose foto’s en onverdunde ooggetuie-optekenings van ’n eens verskroeide aarde hou die onaanvegbare feite op die voorgrond. So ook die opstaan en opbou wat soos ’n goue draad deur die eeueoue Afrikanerverhaal loop.

Toe pen en papier, Boer en Brit, mekaar met die Vrede van Vereeniging gevind het, is “breë amnestie” soos ’n hoop grond oor meer as 34 000 vroue en kinders se grafte gestoot. En saam met dit tientalle Boerevroue se beëdigde verklarings (skokkende, harde feite) soos versamel deur Kosie Havenga, sekretaris van genl. J.B.M. Hertzog. Die Havenga-verslag is in 1982 in sy dokumentversameling gevind nadat ’n embargo van 25 jaar ná Havenga se dood in 1957 verstryk het.

Die ABO en konsentrasiekampe is nie ’n historiese voetnota nie, al word dit toenemend uit die geskiedenis geskryf. Dit is deel van ons kollektiewe geheue. Hierdie herinneringe moet oorgedra word, nie omdat Afrikaners hulself as ewige slagoffers sien nie, maar omdat dit ’n belangrike sleutel is om identiteit te verstaan.

Wat bou ons: monumente of mure?

Die vraag is nie óf ’n volk mag onthou nie, maar hóé hy onthou. Die weg tussen herinnering en verbittering is smal. Herinnering sê: “Dit het gebeur. Ons sal dit onthou.” Verbittering sê: “Dit het gebeur. Daarom sal ons nooit vergewe nie.”

Herinnering bou monumente. Verbittering bou mure. Herinnering leer lesse. Verbittering soek vyande. Net soos ’n volk wat sy geskiedenis vergeet ’n deel van sy identiteit prysgee, net só verloor ’n volk wat uitsluitlik by gister vassteek, sy toekoms.

Dit is hier waar die begrip “smartvraat” relevant word. ’n Smartvraat is nie iemand wat onthou nie, maar sy hele identiteit rondom sy pyn bou. Elke gebeurtenis word deur die

lens van historiese lyding geïnterpreteer. Elke uitdaging word ’n bevestiging van ou onregte. Elke gesprek keer terug na dieselfde wonde. Dit is nie gesond vir individue óf volke nie.

Die Joodse voorbeeld is merkwaardig. Ná die Holocaust het die Joodse gemeenskap nie net museums gebou nie. Hulle het universiteite gebou; die wetenskap bevorder. Hulle het ekonomiese netwerke versterk en kulturele instellings gevestig. Hulle het onthou én nuut geskep. As jy vandag deur die Erfenisstigting se Toekomsbou Museumteater beweeg, waar jy op reis gaan deur 120 jaar van die Afrikaner se storie nadat hy in 1902 platgeslaan was en homself uit die as moes opbou, besef jy: Herinnering is nie ons eindbestemming nie; dit is juis ’n kompas. ’n Meetsnoer vir toekomsbou.

Simbool van veerkragtigheid

Die doel van Konsentrasiekampherdenkingsdag is nie om ou wrokke op te grawe nie. Die Havenga-verslag herinner ons juis daaraan dat geskiedenis ontvouend is. Dokumente kom na vore. Nuwe getuienis word bestudeer en nuwe perspektiewe gevorm. Dit is hoe ’n gesonde samelewing funksioneer.

Daar is nie plek vir vrees vir die waarheid nie en dit hoef nie verdeeldheid te saai nie. Trouens, ’n eerlike erkenning van historiese onregte kan juis versoening versterk. Ware versoening vereis nie vergeetagtigheid nie; dit vereis eerlikheid.

Die uitdaging vir Afrikaners in 2026 is om te onthou en te bepaal hoe die geskiedenis in die toekoms oorgedra én gedra gaan word.

Is die konsentrasiekampe bloot ’n simbool van verlies of veral ’n simbool van veerkragtigheid? Word die stories van die gestorwenes gebruik om permanente verbittering te regverdig of word nuwe geslagte oor die waarde van menswaardigheid, vryheid en verantwoordelike regering geleer?

Daar is geen vervaldatum op rou nie. Daar is ook geen wet wat bepaal dat ’n volk ná 124 jaar moet ophou onthou nie. Die wêreld sou tereg verontwaardig wees indien die Holocaust nie meer herdenk word nie. Dieselfde geld die Armeense volksmoord, die Oekraïense Holodomor en die Britse konsentrasiekampe tydens die ABO.

Smartvrate is dié wat ophou bou

Wat doen ons met herinnering? ’n Volk wat onthou, bewys respek aan sy voorouers. ’n Volk wat uit sy geskiedenis leer, toon wysheid. ’n Volk wat sy pyn in kulturele, opvoedkundige en gemeenskapsbouende werk omskep, bewys volwassenheid.

Wanneer Afrikaners dus op 16 Junie die slagoffers van die konsentrasiekampe herdenk, is dit nie om in die verlede vas te steek nie. Die doel is om die verlede eerlik en onverdun te onthou sodat dit die toekoms kan verlig.

Die alternatief is nie genesing nie. Die alternatief is vergeet. En daar is min dinge gevaarliker vir ’n volk as om sy stories te verloor óf toe te laat dat dit uit skoolhandboeke geskryf word. ’n Volk is nie ’n smartvraat omdat hy onthou nie. Hy word ’n smartvraat wanneer hy ophou bou.

Die uitdaging vir Afrikaners is nie om minder te onthou nie, maar om meer te skep. Nie om die wonde van die verlede te ontken nie, maar om te verseker dat herinnering plek vir wysheid maak.

Só word die gestorwenes geëer. Só word geskiedenis bewaar.

En só word ’n volk se pyn uiteindelik in betekenis omskep.