Deur Charles Rademeyer
In Junie dink baie Afrikaners onwillekeurig terug aan een van die donkerste hoofstukke in ons geskiedenis. Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) leef voort in geslagte se geheue – nie bloot as simbole van lyding nie, maar as plekke waar geloof en volharding in die moeilikste omstandighede denkbaar bewaar gebly het.
Om die konsentrasiekampe te verstaan, moet ’n mens verstaan waarom hulle ontstaan het. Teen 1900 het die oorlog vir die Britse Ryk moeiliker verloop as wat verwag is. Ná die val van die Boererepublieke se hoofstede het die Boerekommando’s voortgeveg deur middel van guerrilla-oorlogvoering. In reaksie hierop het die Britse leër die verskroeideaardebeleid ingestel: meer as 30 000 plase en opstalle is afgebrand; oeste is vernietig; en vee weggevoer of doodgemaak. Vroue, kinders en bejaardes is van hul plase verwyder en in konsentrasiekampe gestop. Die doel was eenvoudig – om die burgers op kommando van enige ondersteuning te ontneem.
Wat as ’n militêre strategie begin het, het egter vinnig in ’n humanitêre ramp ontaard.
Omvang van die kampstelsel
Die konsentrasiekampe was deel van ’n uitgebreide netwerk wat oor die hele Suid-Afrika gestrek het. Teen die einde van die oorlog was daar ongeveer 56 konsentrasiekampe vir Boerevroue en -kinders. Kampe soos Bethulie, Bloemfontein, Brandfort, Kroonstad, Klerksdorp, Mafeking, Merebank, Heilbron, Middelburg, Nylstroom, Norvalspont, Standerton en Vereeniging het derduisende mense gehuisves.
Teen 1902 was meer as 110 000 vroue en kinders in die kampe geïnterneer. Die gevolge was verwoestend: meer as 34 000 het in die kampe gesterf, waarvan nagenoeg 22 000 kinders onder die ouderdom van sestien jaar was. Hierdie syfers herinner ons daaraan dat die konsentrasiekampe nie bloot ’n voetnota van die oorlog was nie, maar een van die grootste humanitêre rampe in Suid-Afrika se geskiedenis.
Vandag bestaan baie van die terreine nie meer in hul oorspronklike vorm nie. Op sommige plekke staan monumente, begraafplase of gedenktekens; op ander plekke het dorpsontwikkeling die sigbare spore uitgewis. Tog bly hierdie terreine van onskatbare waarde. Dit is plekke waar ons verhale tasbaar word.
Juis daarom speel die Erfenisstigting ’n belangrike rol in die bewaring van hierdie herinneringslandskap. Wanneer erfenisterreine en -bakens beskerm, bewaar en behou en word, leef die volksgeheue voort. Sonder herinnering verloor ’n volk sy ankers. Sonder erfenis verloor ’n gemeenskap sy verhaal én stem.
Die meeste mense onthou die konsentrasiekampe as plekke van dood en ontbering. Die winter van 1901 was besonder genadeloos. Tente was verslete, mense het op die koue, kaal grond geslaap en aansteeklike siektes het soos veldbrande versprei. Selfs Britse waarnemers het erken dat die kampe swak beplan en bestuur is. Lucy Deane van die Ladies’ Committee het geskryf dat die Britse owerheid in werklikheid “33 London slums of the worst description” geskep het.
Onwrikbare gees te midde van lyding
Maar die verhaal van die kampe eindig nie by lyding nie.
Tussen die tente het daar ook iets anders geleef: ’n onwrikbare en onblusbare gees. In die herinneringe van die kampbewoners hoor ’n mens telkens dieselfde toon van geloof, vasberadenheid en liefde vir hul mense.
Rensche van der Walt, wat in die Bethulie-kamp was, vertel hoe haar ma, wanneer daar gevra is waarom niemand in hul gesin gesterf het nie, eenvoudig geantwoord het: “Engelsman was nie in staat om ’n Van der Walt dood te kry nie. Lof zy Gods goedertierenheid.”
Selfs te midde van ontbering vind ons woorde soos: “Maar die Lieve Heere geef ons krag dit te draag.” En: “De Heer wou my wel hard kastyden maar storten my niet in de dood, verzachte vaderlyk myn lyden en redde my uit alle noot.”
Hierdie stemme uit die verlede herinner ons daaraan dat die kampbewoners nie bloot slagoffers was nie. Hulle was mense met geloof, waardigheid en hoop.
Gebede en gesange
Dieselfde gees spreek uit die aangrypende herinneringe van senator D.H. van Zyl. Hy beskryf hoe vroue en kinders op waens weggevoer is nadat hul plase vernietig is. Toe die rookwolke van brandende huise agter hulle opstyg, het een van die ouer vroue uitgeroep: “God slaap nie.”
Later, in die kamp self, het die geluid van gebede en gesange tussen die tente opgeklink. Van Zyl onthou hoe moeders in die afwesigheid van hul mans die huisgodsdiens getrou voortgesit het. Saans en soggens is daar gebid en gesing. In daardie eenvoudige handelinge het mense hul menswaardigheid gekoester.
Ook die verhale van vroue soos Petronella Johanna van der Walt en Getruida Jacoba Bruwer bring die werklikheid van die oorlog nader. Hulle vertel van afgebrande huise, geplunderde besittings en die trauma van ma’s wat met klein kinders sonder skuiling agtergelaat is.
Sulke getuienisse gee gesigte aan die statistiek. Agter elke syfer was daar ’n naam, ’n gesin en ’n verhaal. Dit is juis waarom die bewaring van dié verhale so belangrik is.
Verlies, maar nie verslaan
Wanneer ons vandag ’n konsentrasiekampbegraafplaas besoek of by ’n monument stilstaan, eer ons nie net die gestorwenes nie. Ons erken die lewendes wat aangehou glo het toe alles verlore gelyk het. Ons onthou die ma’s wat hul kinders begrawe het. Ons onthou die kinders wat nooit grootgeword het nie. Ons onthou die mense wat hul huise verloor het, maar nie hul geloof nie.
Om te onthou, beteken nie om in die verlede vas te steek nie. Inteendeel, dit help ons om die waarde van vrede, menswaardigheid en verantwoordelike geskiedenisbewaring te verstaan. Emily Hobhouse het geglo dat die lot van die Boerekinders nie tevergeefs moes wees nie en dat hul lyding die wêreld moes waarsku teen die afskuwelikheid van oorlog. Meer as ’n eeu later bly daardie woorde relevant.
Konsentrasiekampmaand herinner ons daarom aan meer as verlies. Dit herinner ons aan die verantwoordelikheid om te bewaar, te vertel en te onthou. Want solank die verhale voortleef, solank die grafte versorg word en solank die kampe nie vergete raak nie, sal die stemme van daardie geslag nie stil word nie.
Daarom vergeet ons nie.
- Charles Rademeyer is bestuurder: erfenisterreine van die Erfenisstigting.
- Deel jou storie of vind uit of een van jou voorsate in ’n konsentrasiekamp was: https://fak.org.za/konsentrasiekampdag-2/






