Deur Megan Davies
Ken jy die land waar die Boerevolk woon?
land met sy berge, terrasse gekroon;
land met sy ruimtes so wyd en so vry?
Ai, dis die land, dis die wêreld vir my!
Ons almal ken dié land, en onthou heel moontlik dié volkswysie se lirieke en wysie. Die land van biltong en braaivleis. Die land van bloei en bou; tussen stof en Afrika-son. Tog is baie gesigte, drome, name deur die wind verwaai, soos in Koos Doep se tydlose “Kinders van die wind”.
Ons weet dalk wie De la Rey, De Wet, Hertzog en Malan was. Maar ken jy die naam van die vrou wat in ’n konsentrasiekamp gesterf het sodat haar kind eendag vry kon leef? Onthou jy die storie van jou oumagrootjie se plaas wat in vlamme opgegaan het terwyl haar man op kommando was?
Verbrand, verwoes, verskeur
Die wêreld onthou die ses miljoen Jode wat met hul lewens tydens die Tweede Wêreldoorlog geboet het. Ons leer van kampe soos Auschwitz-Birkenau en Dachau. Ons onthou die 9/11-terreuraanvalle in die VSA, die 2 977 slagoffers. Asof dit gister was.
Tog weet weinig Suid-Afrikaners hoeveel konsentrasiekampe op dié Afrika-grond die laaste stasie van duisende was. Hoeveel ken die name van die meer as 34 000 Afrikanervroue en -kinders wat in modder en bloed gesterf het?
Konsentrasiekampe gaan nie net oor geskiedkundige feite nie, maar oor my en jou genealogie. Ons historiese geheue. Die storie agter elke gesig wat nie net soos ’n naelstring met die hede verbind is nie, maar wat ons aan ons voorgeslagte anker.
Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitgebreek het, het die twee Boererepublieke – die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat – geweier om hul onafhanklikheid op die altaar van die magtige Britste Ryk te plaas. Vir Brittanje was goud, mag en gryp alles, ongeag die prys. Vir die Boere was geloof, grond en vryheid egter nie te koop nie.
Teen die einde van 1900 het die oorlog ’n wending geneem toe die Boere se guerrilla-oorlogvoering die Britte ’n bloedneus gegee het: klein kommando’s het vinnig beweeg, spoorlyne aangeval en dan weer geruisloos in die gras verdwyn.
Die Britse bevelvoerder lord Roberts en later Kitchener se terugvegplan? Ontmenslik die Boere deur die verskroeideaardebeleid. Meer as 30 000 plase en opstalle is tot pynhope verskraal; oeste is vernietig; diere wreed van kant gemaak. Families is verskeur en per trein na konsentrasiekampe reg oor die land vervoer.
Grafte in die gras
Teen 1901 was duisende vroue en kinders agter doringdraad in oorvol konsentrasiekampe. Haglike omstandighede was aan die orde van die dag, insluitend min kos, vuil water en swak mediese sorg. Die kampbewoners is gemartel, verkrag en uitgehonger. Die een ná die ander graf het uit die grond gegroei.
Die toestand in die kampe was só grusaam dat Emily Hobhouse dit met haar Fawcett-verslag aan die groot klok gehang het. Dit het nie net internasionale kritiek teen Brittanje laat toeneem nie, maar die reusemorele koste van die oorlog ontbloot.
By Springfontein skets Hobhouse ’n aangrypende oomblik van ’n ma wat stil, “verby trane”, na haar sterwende kind staar. Haar oë leeg. In sommige kampe het só baie gesterf, dat vyf mense in een graf begrawe is, met slegs een naam op die grafsteen. Gesigte, drome, name …
Die Boererepublieke was militêr, ekonomies en menslik uitgeput. Uiteindelik is ingestem tot die sluiting van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902. Op 1 Junie 1902 is die konsentrasiekampe se hekke geopen, en die vroue en kinders is toegelaat om na hul afgebrande plase en verwoeste gemeenskappe terug te keer. Baie het vir maande in die kampe agtergebly omdat daar min hoop of krag vir oorbegin was. Die vrede slegs ’n pleister op ’n nuwe stryd om uit die “dam van trane” weer ’n volk op te bou.
Versteekte verslae, vergete geskiedenis
Dit was nie net ’n oorlog van veldslae nie. Dit was ’n oorlog teen die vesels van ’n volk. Weerlose vroue en kinders. Teen familie, verhale en voortbestaan.
Generaal J.M.B. Hertzog het aan Klasie Havenga opdrag gegee om (slegs) honderde van die duisende stories tussen 1902 tot 1904 vas te vang. Hoewel verdrae onderteken is, het vrede op ’n valbyl gebalanseer. Die besluit is geneem om ’n embargo van 100 jaar op die “Havenga-verslag” te plaas.
Ondanks die feit dat die uiters skokkende Havenga-verslag nou vir die publiek toeganklik is, bly die stemme van die vroue en kinders steeds stil. Ons kies om ses miljoen se verhale te leer ken en oor te vertel, maar nie dié van ons eie meer as 34 000 kampslagoffers nie. Name word tot nommers gereduseer en die lyding in die Britse konsentrasiekampe geminimaliseer en versag. Dalk is dit ons geslag se verantwoordelikheid om die stemme met ’n fakkel uit die donker argiefhoek te laat opklink?
Van geskiedenis tot genealogie
Daar is vandag honderde grafte sonder besoekers. Familiebybels wat weggeraak het. Verhale van ouma- en oupagrootjies wat oorvertel moet word. Daarom gaan Konsentrasiekampmaand in Junie oor meer as herinnering. Dit gaan oor die ontsluiting van name, bloedlyne en familieverhale voordat dit vir ewig verlore raak. Want wanneer ’n naam vergeet word, sterf iemand ’n tweede keer. Wanneer stilte daardie persoon se storieplek vat, word ons identiteit ontwortel.
Miskien is dít die belangrikste vraag: nie hoeveel vroue en kinders in die konsentrasiekampe gesterf het nie, maar of ons hul name ken? Ken jy die naam van die kind wat in die Bethulie-begraafplaas begrawe lê? Ken jy die naam van die ma wat haar pasgebore baba in die Kroonstad- of Klerksdorpkamp moes groet? Ken jy die naam van jóú eie mense?
Erfenis leef nie net in monumente van klip nie. Dit leef in die name van dié wat onthou word. Dit leef wanneer ’n volk nie met toegegroeide grafte in die gras tevrede is nie, maar wil wéét, en dit aan hul kinders oordra. Dit leef in onthou.
Elke vrou en kind van die wind.
- Was een van jou voorsate in ’n konsentrasiekamp? Laat weet ons of vind hiér uit: https://fak.org.za/konsentrasiekampdag-2/
- Megan Davies (21) is geskiedenisbeampte van die FAK.




