Deur Dawid Brand

Die Voortrekkermonument spog met sy eerste vrouedireksievoorsitter sedert sy inwyding in 1949, nadat Lucia van Wyk onlangs op die algemene jaarvergadering van die Voortrekkermonument en Natuurreservaat, en die Erfenisstigting tot dié amp verkies is.

Van Wyk, uittredende uitvoerende hoof van die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO), is reeds vir jare betrokke by die vakkundige komitee van die Monument asook by opleidingsprogramme by die Pioniersentrum om onderwysers en kinders met praktiese vaardighede, nuwe perspektiewe en groter selfvertroue toe te rus. Sy is ook in 2025 met ’n FAK-Prestigetoekenning vir haar onderwysleierskap vereer.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, is Van Wyk se naam reeds dekades sinoniem met beginselvaste leierskap en diens aan selfstandige Afrikaanse onderwys. “Duisende kinders, opvoeders en skole pluk die vrug van haar werk. Ware leierskap en diensbaarheid word nie net aan ampte gemeet nie, maar aan die mense en instellings wat ná jou sterker staan. Lucia verbind visie met uitvoering en snoer gemeenskappe rondom ’n gemeenskaplike ideaal saam.

“Wanneer die geskiedenis van selfstandige Afrikaanse onderwys geskryf word, word Lucia se naam met reg onder die pioniers gereken. Sy help nie net om instellings te bou nie, maar vestig ’n kultuur van uitnemendheid. Vir haar is onderwys nooit bloot die oordra van kennis nie. Dit is die diep geloofsgeankerde vorming van jongmense wat hul taal, kultuur en verantwoordelikheid teenoor die samelewing verstaan,” sê Langner.

Geskiedenis wat met die hart praat

Ek ontmoet Van Wyk in die Trekroetetuin in die skadu van die Monument, omring deur vuurrooi aalwyne, helderpienk malvas en seldsame broodbome. In dié mals, watervriendelike tuin – bykans ’n antitese van die nypende winterkoue – troon die beeldhouwerke van Danie de Jager uit bo groen en klip. ’n Koningjagluiperd, rooibokke, kameelperde.

“Die Trekroetetuin vergestalt vir my nie net die Afrikanerverhaal oor berge en deur dale nie, maar bowenal die ongelooflike groei van die Kultuurtuiste sedert die Covid-19-pandemie. Waar toerisme ’n paar jaar gelede die grootste dryfveer was, is daar vandag tientalle inkomstestrome wat volhoubaarheid en selfstandigheid in die hand werk.

“Al die organisasies wat by die Kultuurtuiste verteenwoordig word, is almal in Christenskap geanker. Dit skep enersyds hoop en wys andersyds dat daar ’n hoopvolle toekoms is,” sê dié boerenooi, oorspronklik van die plaas Driehoek in die Bethal-distrik.

Volgens haar is die feit dat die Monument weer onlangs benoem is in die Tshwane Tourism Awards, asook ses benoemings ontvang het in die Best of Pretoria-kompetisie, ’n bewys dat die reuse-toekomsbouwerk hier raakgesien word.

Haar liefde vir die Afrikaner en verbintenis met die Voortrekkerverhaal kom reeds van kleintyd af, sê Van Wyk. As leerling aan die Laerskool Trichardt en die Morgenzon Landbou Akademie, was naaldwerk en huishoudkunde haar kos. Ná skool studeer sy onderwys by Tukkies en leef haar passie vir Afrikaansonderwys vir dekades by verskeie skole uit.

“Ek wou egter meer doen, meer kinders én onderwysers raak.” Sy het in 2000 eers betrokke geraak by CVO Pretoria se opvoedingsraad en met handboekontwikkeling gehelp, en is uiteindelik as uitvoerende hoof van die BCVO-groep aangestel.

Hoewel sy nog nie planne ná haar uittrede by die BCVO het nie, lê kultuur- en geskiedenisoordrag haar na aan die hart. “Dit help nie net ’n kind neem geskiedenis as skoolvak nie, veral nie met ons geskiedenis wat al meer uit handboeke verdwyn nie. Dit bereik nie die kind se hart nie. Sodra hulle die geskiedenis eerstehands ervaar soos by die Monument, brood bak of sweep klap, ontdek hulle iets van ons pioniersgees, praat dit met hul hart.

“Daarom maak die duisende kinders wat die Monument jaarliks besoek my ongelooflik opgewonde. Dít gee my hoop. Want hiér beleef jy Afrikanerskap eerstehands. ’n Kind wat weet waar sy wortels is en trots is daarop, ontwikkel respek, en weet waarheen hy op pad is. Hulle neem dié boodskap terug huis toe en uiteindelik keer die ouers – wat dalk jare laas by die Monument was – hierheen terug om met hul identiteit en herkoms herverbind te word,” sê sy.

Oordrag van kulturele selfvertroue krities

Die Afrikaner het lank genoeg jammer gesê, meen sy. “Dit is ons geslag se verantwoordelikheid om kulturele selfvertroue by jongmense te vestig. As ’n mens deur die Trektroetetuin stap, ervaar jy ’n deeltjie van die berge waaroor kaalvoet gereis is; die dale waarin ons voorouers gestaan en opgekyk het. Uitgeroep het.

“As ek byvoorbeeld aan die Anglo-Boereoorlog terugdink, dink ek aan die duisende kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het en nie kaalvoet kon speel óf die voëls hoor kwetter nie. Ons is dikwels swartgallig om die braaivleisvuur; dink die gras is nét groener aan die anderkant van die draad. Maar ons het so baie om voor dankbaar te wees. Ons moet onthou: Wat het ons hier? Wie het ons hier? Waarvoor is ons geroep?

“Ouers moet weer die verantwoordelikheid opneem om ons kinders toe te rus, werklik verbondsouers wees. Ons moet ons kinders leer om hoopskeppers te wees. Niemand gaan vir ons vryheid gee nie; niemand gaan vir ons ’n beter Suid-Afrika gee nie. Ons moet dit sélf skep – nie vir myself nie, maar vir ander. Daarom moet ons ’n entrepreneuriese ingesteldheid by kinders kweek.”

Van Wyk is reeds 35 jaar getroud met Fanus, ’n siviele ingenieur, en hul seun, Hannes – wat sy pa en oupa se doopnaam dra – is ’n geoktrooieerde rekenmeester en entrepreneur met verskeie sakebelange. “Ons moet ons kinders leer om nie te wonder wáár hulle eendag gaan werk nie, maar hóé hulle werkskeppers kan wees. Vir vandag se jongmense wink geleenthede op gebiede wat nog nie eens bestaan nie.

“Ons moet hulle toerus om krities te dink, dinge te bevraagteken én verdedig. Hulle as geheelmense toerus en leer om geleenthede raak te sien. Die Here het ons nie hier geplaas om te verwelk nie,” sê sy.

Geloof die beton van ons bestaan

“Daar is ’n rede waarom die Monument op ’n koppie staan. Dit vra dat ons voortdurend sal opkyk, ons oë op God hou. Want geloof is die beton van ons bestaan. Ja, die Monument gaan ook deur berge en dale, ‘maar oral is my God’. Huis is waar die hart is, en daarom werk ons kliphard om dit ’n warm, hartlike tuiste te maak waarheen gesinne en gemeenskappe keer op keer kan terugkeer en elke keer iets nuut ontdek.

“Waar jy vroeër die Monument in ’n japtrap kon besoek, is dit vandag onmoontlik om alles wat hier gebied word, in ’n dag te beleef. Geloftedag is steeds een van die enkele grootste jaarlikse gebeurtenisse, maar daar is ’n nuwe polsslag – mense wat daagliks hier kom draf en fietsry en kuier; groot feeste en gewilde boeremarkte.”

Soos die familiefoto waarop vier geslagte Lucia’s pryk, koester Van Wyk die woorde van Psalm 91. “Die Here se belofte is beskerming; al val tienduisende om ons. Ons moet leef tot eer van die Here. Niks wat ons het, is ’n gegewe nie. Niks wat ons bereik, is deur ons eie toedoen nie. Dis genade. Dis die Here wat ons roep en ons moet met verantwoordelikheid daarop antwoord. Ons taak as rentmeesters met erns opneem.

“Die Kultuurtuiste oorleef nie net nie; dit blom – net soos dié tuin. My droom is dat dit net meer en meer huis, die tuiskomplek, van generasies toekomsbouers word.”

  • Dawid Brand is bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste.